Bekende spreker uit VSA kom by Emmanuel praat
Bosman is tans in die land om by twee groot konferensies op te tree.
Die bekende dr John Bosman van die VSA, wat vir twee jaar in Kemptonpark gewoon het, is op 22 September die spreker by Emmanuel.
Die geleentheid vind om 9vm by Oos-Rand Akademie te Maplestraat 72, Pomona, plaas.
Bosman en sy gesin het in 1986 na die VSA verhuis waar hy in Lake Charles, Louisiana, ’n groot gemeente tot stand gebring en ’n ouditorium gebou het wat 5 000 mense kon huisves. Daar was onder meer ook ’n skool en kleuterskool gevestig, het sy broer, past Stephan Bosman, presiderende pastoor van Emmanuel, gesê.
Bosman het in daardie stadium ook sy eie radio- en TV-program behartig en SpiritWind gestig – ’n bedieningsorganisasie wat homself daarop toelê om leiers in die kerk op te rig en toe te rus vir dienswerk in die Koninkryk van God.
Hulle doen ook jaarliks humanitêre uitreike en konferensies in Suid-Afrika. Hy is steeds president van SpiritWind en die direkteure is verteenwoordigend uit verskeie state van Amerika.
Bosman en sy gesin het in die middel-negentigerjare vir twee jaar na Suid-Afrika verhuis waar hy die presiderende pastoor van Kemptonpark-Noord (vandag Kaleideo) was.
Hy het met groot sukses bedien en spoedig was die gebou elke Sondag vol. Hy en sy gesin het egter oortuig gevoel om na Amerika terug te keer. Hulle het hulself in Atlanta, Georgia, gevestig en vir etlike jare daar gewoon totdat hulle na Dallas, Texas, verhuis het, waar hulle steeds woon.
Bosman is tans in die land om by twee groot konferensies, die algemene konferensie van die Assemblies of God in SA en een konferensie in Maseru, Lesotho, as spreker op te tree.
“Ons is bevoorreg om hom vir slegs een diens in Kemptonpark te kan hê,” het sy broer gesê.
Almal is welkom. Vir verdere navrae skakel Mariette Myburgh by die kerkkantoor by 011 970 7555.
