Om die wêreld in een dag tydens Week vir Bejaardes
Die Week vir Bejaardes is met ’n wye verskeidenheid van aktiwiteite soos volkspele en mediese opvoedkundige-versorgingseminare gevier.
Bejaardes is die eerste week in Oktober deur Kempton Park Raad van Bejaardes bederf om die wêreldwye Week vir Bejaardes te vier.
Express het op 2 Oktober by Allen Park ingeloer waar verskeie tafels, wat ’n pannekoek-“pit-stop” ingesluit het, kulture soos Mauritius, Ndebele, Duitsland, Romenië en Suid-Afrika verteenwoordig het.
Die Ndebele-tafel van Sara Hlope het disse soos marog, dompola en pap gehad. Natuurlik was die Suid-Afrikaanse tafel met tradisionele trooskos bedek waarvan melkkos, koeksisters en pannekoek deel was. Die bejaardes is almal daarmee bederf.
Volgens die leefstylbestuurskonsultant van Allen Park, Sarie Scheepers, het die week ook volkspele en praatjies ingesluit.
Die week is met Manie Brits en sy volkspelelaer afgeskop wat sowat 60 inwoners vermaak het.

Inwoners het geesdriftig aan die spele deelgeneem en saam met die gesoute spelers ge-tiekedraai, gelag en gesing.
Die Week vir Bejaardes is vanjaar van 30 September tot 6 Oktober gevier. Op 1 Oktober was Internasionale Dag van Ouer Persone en op 6 Oktober was dit Oupa- en-Oumadag.
Die Week van Ouer Persone is in 1990 deur die Verenigde Nasies internasionaal ingestel. Die doel daarvan is om aan bejaardes wêreldwyd hulde te bring en hulle te vereer, terwyl daar terselfdertyd bewusmaking geskep word ten opsigte van kwessies wat ’n impak op hul lewens het.
Die Verenigde Nasies besluit elke jaar op ’n tema. Gedurende die betrokke jaar fokus al die aktiwiteite op die tema en het ’n mikpunt waar sekere doelwitte bereik wil word.
Vanjaar se tema was Die Reis na Ouderdomsgelykheid. Met hierdie reis word beoog om teen 2030 alle diskriminasie teen ouer persone uit die weg te ruim en geleenthede te skep waar die sosiale-, ekonomiese- en politiese insluiting van ouer persone ’n werklikheid sal wees.

