Edleen-egpaar sien uit na hul 50ste huweliksherdenking
Op 74 is Gerald nog steeds nie te oud om teologie te studeer nie.
Gerald en Dirkie van den Berg van Edleen vier vanjaar die spesiale mylpaal van hul 50ste huweliksherdenking.
Die paartjie is op 15 November 1969 in die destydse NG Moedergemeente in Monumentweg getroud.
Gerald (74) en Dirkie (71) is geseën met vyf dogters, Dirkua en Georgia (hul tweeling wat reeds by Jesus is), sowel as Minette, Leilanie en Nadia. Hul het ook twee kleinkinders, Noelle (9) en Jaime (8).
Gerald het as lisensiehoof in Germiston afgetree en Dirkie was verbonde aan die destydse Kempton Park Munisipaliteit voor haar aftrede.
Hulle geniet ’n rustige aftrede en Dirkie ondersteun haar man met sy studie in teologie aan die Hebron Theological College in Benoni.
“Teologie is my passie,” sê Gerald. “Ek sal altyd aanhou studeer en in God se wingerd bly werk. My gewerskaf met die studiemateriaal, en natuurlik die Bybel, hou my naby aan God.
“Ek glo dat mens sonder God in jou lewe sommer baie vinniger oud word.”
En die geheim van hul suksesvolle en liefdevolle huwelik?
“Verseker die feit dat Jesus Christus die middelpunt van ons verhouding is,” sê die egpaar.
