AfriForum Kempton Park kyk terug op ‘n goeie jaar
Die tak se jeugvleuel het ’n uilhuisprojek van stapel gestuur en ses uilhuise vorm tans deel van die projek.
AfriForum se Kempton Park-tak het tydens sy onlangse algemene jaarvergadering teruggekyk na die afgelope jaar se suksesse.
Voorsitter Jan Vermaak het gesê die tak is vanjaar vyf jaar oud en dat dit vir hom ’n groot voorreg is om deel te kon wees van die stigting en groei van die tak.
“Ons is bevoorreg om ’n bekwame bestuurspan te hê waarsonder al hierdie veranderinge nie moontlik sou wees nie. “Hierdie suksesstorie is die gevolg van positiewe én negatiewe dae, baie geduld en baie tyd.
“Ons sal nie moeg word nie en vra die gemeenskap om ons te ondersteun deur self by die tak en sy talle aktiwiteite betrokke te raak,” het Vermaak gesê.
Hier is ’n aantal hoogtepunte wat tydens die vergadering uitgelig is:
• Die tak se ledetal het die 800-kerf bereik.
• Die buurtwag het bystand gebied by meer as 70 voorvalle wat arrestasies, dwelmhandel en motorongelukke insluit.
• Die tak het ’n dubbelkajuitbakkie aangekoop om kapasiteit te vergroot.
• Die tak het ’n kantoor in Soutpansbergweg in Van Riebeeck Park geopen met die doel om dit later ook as ’n gemeenskapsbeheerkamer te vestig.
• Die tak se herwinningsprojek het van een na drie gebiede uitgebrei.
• Die tak se jeugvleuel het ’n uilhuisprojek van stapel gestuur. Ses uilhuise vorm tans deel van die projek.
• Die tak het agt projekte suksesvol in 2019 voltooi.
