Oud-Edleen-onnie sterf na 46 jaar in Kempton
Valerie vertel hoe Daan ewe spontaan in haar klas sou stap, die bordkruit neem en haar lesse sommer oorneem terwyl sy sou klas aanbied.
“Die kinders het baie ontsag vir hom gehad. Hy was baie gewild en baie geliefd. Ek was verbaas om te sien hoe baie oud-leerlinge die dag van die begrafnis opgedaag het.”
So gesels Edleen-inwoner Valerie Pieterse (76) oor haar oorlede man Daan (77) se 46 jaar lange betrokkenheid in die gemeenskap waar hy beter geken was as oud-onnie aan Laerskool Edleen.
Daan, ‘n oud-onderwyser by Laerskool Edleen, is op 26 September dood nadat leukemie in Mei by hom gediagnoseer is.
“Hy was vir ’n week in die hospitaal vir ligte chemobehandeling. Dit het goed gegaan totdat hy ’n virus in die maag gekry het. Hy het ontwater en dit het vinnig gegaan. Mens is dankbaar vir die tyd wat hy saam ons gehad het.”
Valerie het vertel hoe sy en Daan in Desember 54 jaar getroud sou gewees het en hoe sy stomgeslaan was met die baie vriende wat by die begrafnis opgedaag het. “Selfs toe hy siek was, het hy gesê dat hy nooit besef het hoe wyd ons vriendekring is nie.”
Sy het ook vertel dat Daan in Primrose grootgeword het voordat hy in 1961 aan Goudstad Onderwyskollege begin studeer het. “Ons was Goudstad se eerste groep studente en dit is hoe ons ontmoet het.”

Daan het na sy studies vir vier jaar by Laerskool Piet van Vuuren in Brixton skoolgehou voor hy die onderwys vir 10 jaar verlaat het om in die boubedryf te werk.
In 1979 is hy by Laerskool Edleen aangestel en het vir 24 jaar as departementshoof gedien het voor sy aftrede in 2003.
Valerie het vir baie jare saam hom by Edleen skoolgehou nadat sy as onderwyseres by Laerskool Impala weg is.
Toe daar gevra is wat sy gunsteling vak was, sê sy: “Hy was lief om wiskunde aan te bied, maar behalwe vir dit het hy ook Afrikaans en geskiedenis gegee.”
Valerie het ook wiskunde by die skool gegee en sy onthou dat Daan soms spontaan by haar klas sou instap, die bordkryt by haar sou vat en die les verder aanbied. “Toe dink ek by myself, wel, darem verstaan die kinders nou wat ek bedoel het om hulle te leer,” grap sy.
“Hy was mal oor sy sport. Hy het so baie gedoen vir die rugby, krieket en hy was van jongs af ‘n goeie stoeier. Hy was Suid-Transvaalse stoeikampioen in sy jonger jare en was ook goed in gimnastiek.”
Daan het dit ook geniet om houtwerk te doen en dit word weerspieël in al sy handgemaakte houtstukkies in die huis. Hy het geniet om houtwerke as geskenke vir mense in die gemeenskap te gee.
Daan en Valerie het vier kinders, drie seuns en een dogter.
“Ons was nog altyd ’n groot familie. Ons het al nege kleinkinders,” het sy trots vertel en gespog met die familie se foto’s.
