Nuwe AGS gemeente word ingewy
'Dit was twee moeilike jare sedert ons afskeid geneem het van ons ou Heidelberg-gemeente'
Die nuwe Apostoliese Geloofsending (AGS) Brentwood Park het sy amptelike inwydingsdiens op 1 Desember gehou.
Past Sarel Rudolph, wat die diens waargeneem het, het gesê: “God het ons geskape met drie aspekte van die lewe – tyd, ruimte en materie. Wanneer ons God se persepsie soek en probeer verstaan, moet ons besef dat God dink nie in die beperkings van tyd, ruimte en materie nie. God dink en beplan ver groter as dit wat ons as mensdom ken,” het hy gesê.
Past Rudolph se vrou Maryna, het vir die Here dankie gesê vir die voorreg om die nuwe gemeente te lei en versterk.
“Dit was twee moeilike jare sedert ons afskeid geneem het van ons ou Heidelberg-gemeente. Ek besef nou dit was die Here se manier om ons toe te rus om dié nuwe gemeente te kan aanvat.
“Soos wat mens by die gronde se hek inry, sien mens bordjies wat sê welkom by die liefde – en dit het my hart baie warm laat voel.”
Volgens die gemeente se tesourier, Christo Botha, het AGS Brentwood Park ontstaan onder die leiding van die AGS Oos-Rand-streekskomitee, onder wie se toesig die nuwe gemeente funksioneer.
“Die gemeente bestaan al sedert Februarie en het 85 lidmate.”
Hy sê die behoefte vir stabiliteit en ’n voltydse leraar het saam met die getalle gegroei. Die stigtingskomitee het met Sarel en Maryna onderhandel om die leisels op ’n jaar-tot-jaar kontrak te neem.
“Ons is dankbaar en opgewonde dat hulle die uitdaging aanvaar het en ons nooi die Kempton Parkse gemeenskap uit om ons dienste by te woon en te kom deel in ons vreugde.”
Botha het gesê dat AGS Brentwood Park pas die nodige status van ’n geregistreerde gemeente van die AGS van Suid-Afrika ontvang het.
“AGS Brentwood Park wil graag ’n tuiste wees vir mense met ’n behoefte aan liefde, erkenning en die geleentheid om iets positiefs te doen vir ons stukkende samelewing.”
