Van Riebeeck Park-tiener (16) se Kersgeskenk: kankervry!
Zander se ma vertel dat 11 Oktober die dag merk wat die dokter die goeie nuus gedeel het.
Sedert sy kanker na drie maande se intensiewe chemoterapie in remissie is, kan Hoërskool Jeugland-leerder Zander van Eeden (16) die nuwe jaar vierkantig in die oë kyk.
Zander is op 11 September met B-sel akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer nadat sy ma Melinda hom dokter toe geneem omdat hy aanhoudend moeg en bleek was.
“Ek het eers vermoed hy het ’n ystertekort,” het Melinda aan Express vertel. “Die dokter het dadelik sy yster, lewer en volbloedtelling getoets. Dieselfde middag het sy my laat weet dat Zander dringend bloed nodig het en baie siek is.”
Zander is dadelik opgeneem vir ’n bloedoortapping en was sedertdien telkemale in die hospitaal vir chemoterapie en bloedoortappings.
“Hy het al 14 eenhede bloed gekry. Chemoterapie was daar al baie van, ek kan nie eens onthou hoeveel sakkies hy moes kry nie.”

Die Van Riebeek Park-tiener het gesê hy was hartseer met die koms van die slegte nuus. “Al wat deur my gedagtes beweeg het was, hoekom ek?” sê Zander.
Toe hy gevra is hoe die behandeling voel, vertel Zander: “Party dae voel ek baie sleg en naar en ander glad nie. My hele lyf is sensitief, so ek hou glad nie daarvan as iemand aan my raak nie.
“Ek kry by tye ‘pins en needles’ in my vingers wat ook van die chemo is, maar drink ook medisyne om daarmee te help. Die dag toe ek my hare verloor het was vir my baie moeilik. Ek was bitter hartseer.”
Hy sê ook hoe ondersteunend sy familie, vriende en skool is met die tuimeltrein wat hy tot dusver moes ry.
“My pelle hanteer my nog dieselfde, maar wanneer ons saam is, is hulle net nie so rof met my nie. My neef, Ryno en vriend Erich het hul hare laat skeer om my te ondersteun.”
Melinda vertel dat 11 Oktober die dag merk wat die dokter die goeie nuus gedeel het. “Zander was klaar in remissie. Sy liggaam het baie goed op die behandeling gereageer.

“Ons gee al die eer aan die Here. Hy het vir Zander een van die beste dokters gegee en natuurlik so baie mense wat van regoor die wêreld vir hom bid en ondersteun.”
Zander sê graag aan mede-kankerleiers en die gemeenskap: “Bly sterk, jy gaan daardeur kom. Bid en vertrou in God.
“Respekteer ander mense meer, geniet jou lewe en gebruik elke oomblik van jou lewe.”
Melinda het gesê dat hulle rooi kankerbalkies teen R30 per balkie verkoop vir Zander se kankerfonds. Indien enigiemand sy las finansieël wil verlig, kan hulle Melinda by 082 619 5677 kontak.
