Jong man verdwyn op pad na Groblersdal
Duikers het gister die Vaalrivier gefynkam vir tekens van Willem Kruger se bakkie omdat hy by ’n lodge langs die rivier was voor sy verdwyning.
’n Oudleerling van HTS Middelburg, Willem Kruger (29) wat Saterdagoggend 01:00 vanaf Morgenzon na Groblersdal vertrek het, het spoorloos verdwyn.
Sy suster, Danelle Verwey, het bevestig dat haar broer nooit sy bestemming bereik het nie. Hy moes deur Middelburg op die N11 gereis het op pad terug na sy huis.
Kruger is die seun van bekende Groblersdalse boer, Tiaan Kruger en die swaer van bekende Middelburgse rugbyspeler, Jacques Verwey.
Nog ’n familielid, Francois Rossouw, sê dat hulle sedertdien die paaie gefynkam het op soek na Kruger.

Die soektog is gister uitgebrei na die Vaalrivier waar privaat- en polisieduikers die rivier gefynkam het vir tekens van Kruger se bakkie.
Die Vaalrivier loop langs die Henbase Lodge, tussen Morgenzon en Amersfoort, verby en die rivier is in volle vloed. Willem het vanaf dié lodge Saterdag in die vroeë oggendure gery en nooit tuisgekom nie.
Daar word vermoed dat hy dalk oor ‘n bedrieglike laagwaterbruggie by die lodge gery het. Die aand wat Kruger verdwyn het, het dit gereën en kon dit moontlik ook sy sig belemmer het.

“Ons het op elke roete die veiligheidskameras by die uitgange van boere se plase nagegaan. Dit is nie CCTV kameras nie, maar ’n tipe kamera wat net die voertuig en registrasienommer nagaan. As jy byvoorbeeld ’n wit Hilux bakkie soos Willem se bakkie soek met sy registrasienommer, dan kan die kameras aandui of hy daar verby is of nie,” sê Marilé Nieuwoudt, wat een van die koördineerders is van die operasiesentrum van die soektog.
Hulle het nie net die roete via Bethal na Middelburg nagegaan nie, maar ook alle ander roetes vanaf die lodge, maar nêrens wys sy voertuig nie. Dit skep die idee dat hy nooit die lodge verlaat het nie.
Kameras het gewys dat hy by die lodge in is, maar nie weer uitgegaan het nie.
“Ons moet alle moontlikhede ondersoek en dit is hoekom die polisieduikers en helikopters gebruik word in die soektog in die rivier. Ons taak word egter bemoeilik met die Vaalrivier wat in vloed is. Dit is nie onmoontlik dat hy uitgery het by die lodge nie en ons sal steeds alle inligting wat ons kry, opvolg,” sê Nieuwoudt.
Helikopters word ook ingespan vir die soektog.
Ten tyde van sy verdwyning het hy gery met ’n wit Hilux Dakar, registrasienommer FBH 948 L. Hy het ’n blou hemp en ’n khakikleurige kortbroek gedra.
As enige persoon weet waar Willem hom bevind of sy bakkie iewers opmerk, kan die volgende nommers gekontak word:
- Marelie Nieuwoudt (Bethal gemeenskapspolisiëring) by 071 873 1184.
- Die Groblersdal Polisie (kaptein Matipa) kan ook gekontak word by by 013 262 8371 of 067 016 9907. Alternatiewelik kan die MySAPS Toep afgelaai word en inligting deurgestuur word na 08600 10111.
- Die Missing in SA organisasie het ook ’n lys nommers beskikbaar gestel wat gebel kan word, sou daar enige positiewe inligting wees wat sal lei dat Willem gekry word: Wendy 072 6497683, Matt 081 010 3888, Louise 083 285 5994, Grayham 076 712 7062, Leonardo 079 351 2160 of Connie 072 911 6124.
Read original story on www.citizen.co.za