
Die lamppaal wat op 26 en 27 Mei frustrasie onder inwoners van Chancliff, Noordheuwel en Rant-en-Dal areas gebring het toe ‘n hoofwatertoevoerpyp gebars het, het teen 3 Junie steeds op die grond in Bloubergstraat gelê.
Tjaart Steenkamp, Demokratiese Alliansie Raadslid vir wyk 22 het voorheen aan die NUUS gesê dat die hoofwatertoevoerpyp reeds op 27 Mei herstel is.
Met die NUUS se opvolgbesoek om te sien of als weer deur die munisipalewerkers teruggeplaas is, is daar gesien dat die lamppaal net so op die grond gelos is, maar dat die gat wat voorheen oopgegrawe is, weer met grond opgevul is.
Daar is nog onduidelikheid of die lamppaal snags brand en of dit enigsins elektrisiteitstoevoer het, want daar is ‘n opening by die paal waar enige iemand, soos nuuskierige kinders, hulle hande by kan indruk en ‘n noodlottige besering kan opdoen.
Die lamppaal se gloeilamp is ook kwesbaar om onder vandale deur te loop wat die lig kan beskadig deur dit uit te slaan.
Die NUUS het vrae aan Steenkamp gerig wat beloof het om ondersoek in te stel.
“Sover my kennis weet ek dat die elektrisiteitstoevoer by dié straatligpaal afgeskakel is en dat die straatlig weer terug geplaas sal word.”