MunicipalNews

“Onwettige” advertensies ontsier die dorp

Besigheidseienaars meen ander sit dit op, so dan kan hulle ook.

‘n Hele rits moontlik onwettige advertensies is besig om in die Krugersdorp-area opgerig te word.

Martin Rossouw, ‘n inwoner en besigheidseienaar sê hy het al self gesien hoe van hierdie advertensies opgerig word.

Hy het die NUUS na een van die nuwe “reklameborde” onder die treinspoorbrug op Chamdorweg in Lewisham geneem waar ‘n paar advertensies reeds pryk asook op die hoek van Chamdor- en Hoofrifweg.

“As ek advertensies wil opsit moet ek eers die nodige toestemming by die munisipaliteit daarvoor kry en dan steeds betaal om dit iewers op te rig, so ek wil weet hoekom moet die mense wat nog respek het vir die wet betaal terwyl ander net kan doen wat hulle wil?”

Hy sê sit hy ‘n advertensiebord iewers op, sal hy die ongeluksvoël wees by wie die munisipaliteit heel moontlik sal toeslaan om hom te beboet en ook nog sy advertensies sal verwyder.

Rossouw sê hy wil graag weet wie hulle die reg gegee het om dit op te sit.

“Wie gaan betaal om die advertensies wat op die treinspoorbrug geverf word te verwyder?”

Hy sê voorts dat dié advertensies wat net so opgerig word, ook die dorp ontsier.

“Ek bly al my hele lewe lank in Krugersdorp, maar deesdae is ek nie meer ‘n trotse inwoner nie.”

Die NUUS het van die besighede gebel wie se advertensies opgerig is, sommige wat selfs sowat drie weke gelede advertensies laat opsit het.

Die besighede met wie daar gesels is het gesê dat hulle dit gedoen het omdat ander besighede dit doen.

Toe daar gevra is of hulle toestemming gekry het om dit te doen is daar gesê dat die persoon wat die verfwerk op die treinspoorbrug doen hulle gerusgestel het dat hy toestemming van die spoorweë (of dit nou Metrorail of Prasa is) gekry het.

Dié man is na die tweede probeerslag in die hande gekry waar hy gebieg het dat hy nie toestemming gekry het nie omdat hy nie geweet het waar om dit te kry nie.

In ‘n amper onhoorbare telefoongesprek met hom is daar gevra of hy die advertensies sal verwyder en die klante wat daarvoor betaal het se geld gaan terug gee, waar hy gesê het hy wil ‘n ooreenkoms met die munisipaliteit glo aangaan om dit elke ses maande te verwyder.

Vrae vir kommentaar is aan Nkosana Zali, munisipale woordvoerder van Mogale City Plaaslike Munisipaliteit gestuur om te verduidelik wat die prosedure is om advertensies op te rig asook aan wie die treinspoorbrug behoort.

Geen terugvoering is teen druktyd ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button