MunicipalNews

Niemand wil pa staan vir waterprobleem

'n Inwoner is raadop oor die waterdruk wat reeds vir ses maande laag is dat sy nie eens haar ontbytskottelgoed kan was nie.

Vir meer as ses maande lank sukkel Lushan Turner van Lewisham om dit by Mogale City Plaaslike Munisipaliteit tuis te bring dat die waterdruk in dié area baie laag is.

“Die probleem het reeds in middel Januarie begin. Munisipale werkers het langs Hoofrifweg gewerk en ek het gedink dit was as gevolg daarvan, maar toe hulle daar klaar is, was die probleem steeds daar.

“Gewoonlik laat weet hulle ‘n mens dat die watertoevoer onderbreek gaan word en stel dan waterpunte beskikbaar waar mens water kan kry, maar dit het nooit gebeur nie.”

Sedertdien moet sy daagliks sukkel om selfs net genoeg water vir basiese huistakies soos skottelgoed was uit die krane te kry.

Sy het twee weke nadat die munisipale werkers met hulle werk langs Hoofrifweg klaar was, die eerste keer oor die waterdruk navraag gedoen, maar dit was asof sy om hulp aangeklop het waar niemand tuis was nie.

“Ek het gebel, net om dié en dáárdie een te hoor sê dat dit nie hulle departement is nie. Later het ek uit desperaatheid my klagte op Mogale City se webwerf aan die Uitvoerende Burgemeester, Calvin Koketso Seerane gerig en het toe ‘n oproep van ‘n ene Johann van Eck ontvang.”

Turner sê om aan hom te probeer verduidelik dat daar wel ‘n probleem is, was ‘n mors van tyd.

“Hy is een van die moeilikste mense met wie ek nog gewerk het; hy bly vir my sê dat daar niks fout is met die waterdruk nie.”

Sy sê hy het twee keer iemand uitgestuur, maar dat sy by die werk was.

“Ek wens net hulle wil besef dat daar ‘n probleem is. Ek het al gehoor dat van die waterpype in die area toegemaak moes word omdat die stelsel so verouderd is.”

Turner het aan die NUUS verduidelik dat die water wat in die pype opbou net genoeg is om haar hare en die ontbytskottelgoed te was.
Sy het vir die NUUS die talle waterbottels gewys wat sy smiddae volmaak wanneer die water effens sterker loop.

“Die waterdruk raak smiddae beter en dan was ek my wasgoed, hoewel dit lank duur om water in die wasmasjien te tap.”

Turner sê hulle gebruik ‘n 20-liter waterbottel om die toilet se spoelbak vol te maak. Sy is besorg dat die water wat teen so ‘n slakkepas in die geiser inloop, die element kan beskadig.

“Ons is nie die enigstes wat met hierdie probleem sit nie – die mense om ons kla dat die waterdruk by hulle ook so laag is.”
Turner sê sy hoop dat iemand van die munisipaliteit aandag aan hierdie probleem sal gee.

• ‘n Video wat Turner geneem het om te wys hoe laag die waterdruk is, is op looklocal Krugersdorp beskikbaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button