NUUS joernalis betrap en konfronteer wetoortreders
Krugersdorp-Wes wetoortreders toon geen ag vir die padreëls toe NUUS joernalis Marizka Coetzer hul onverwags betrap.
Die NUUS het ongehoorsame wetoortreders wat op ‘n gestremde parkeerspasie by die Spar-winkel ingang in Krugerdorp-Wes geparkeer het op heterdaad betrap en gekonfronteer.
Hierdie is blykbaar ‘n gereelde instelling by die besige winkel se parkeringarea.
Die oortredes het hul op 25 Junie blind gehou vir die gestremde parkeerbordjie en ongeskik aan die NUUS gesê dat “hul sal maak net wat hul wil”.
‘n Karwag by die winkel het aan die NUUS vertel hoe sy die ongeskikte klante se sarkastiese opmerking op ‘n daaglikse basis moet aandurf.
Wanneer sy die oortreders aanspreek kry sy gewoonlik ‘n soortgelyke reaksie, “Ek kan parkeer net waar ek wil, ek betaal my belasting”.

As gevolg van die gereelde oortreding sien die karwag daagliks hoe senior burgers om die hoek parkeer en sukkel-sukkel met ‘n kruk of kierie na die winkel toe moet stap.
“Partykeer vloek hul my as ek hul van die gestremde parkeer area wegjaag.”
Enige persoon wat skuldig bevind word aan ‘n soortgelyke oortreding of op ‘n gestremde parkering parkeer sonder ‘n geldige plakker op hul voertuig kan ‘n boete ontvang.
Ongelukkig kon die NUUS nie die presiese bedrag bevestig nie aangesien daar skynbaar net een offisier by die Mogale City Verkeerdepartement is wat die bogenoemde vraag kan beantwoord.
Frustrerend soos dit is kan mens ook nie die Mogale City Verkeerdepartement kontak op die nommer wat beskikbaar gestel is op hul webtuiste mogalecity.gov.za/traffic nie.
Die een nommer is nie meer langer in werking nie en die ander een lui eindeloos aaneen, 15 minute voor hul toemaak tyd.
Die Hoof van die Verkeer se sekretaresse kon die NUUS ook nie juis help om die bedrag te bevestig nie en het ons eenvoudig na die woordvoerder van die Mogale City Munisipaliteit verwys. Die laasgenoemde was ook nie beskikbaar nie.
