Inwoners en motoriste van Krugersdorp-Wes kla vir meer as ‘n maand oor die foutiewe verkeerslig by die Spar-sentrum op die hoek van Rustenburgweg en Herbertlaan.
Die verkeerslig is nou al byna ‘n maand lank buitewerking en word tans as ‘n vier rigting stop deur motoriste hanteer.
“Vandag is dit presies drie weke wat die robot begin rooi flikker,” vertel ‘n karwag wat al vir die afgelope drie jaar in die sentrum se parkeerarea werk.
“Daar word beweer dat nog voor die lig buitewerking was, die robot self wel foutief was.
“Wanneer die robot wel groen slaan vir die verkeer van Herbertlaan, kon slegs een kar op ‘n slag oorgaan voordat die robot skielik oorslaan na rooi.”
Die buitewerkende lig is nie gevaarlik alleenlik vir die motoriste nie, maar ook vir die kinders van die area wat die pad op ‘n daaglikse basis kruis, meen die karwag.
“Wanneer ek kinders by die kruising sien, hol ek daarheen om hul veilig oor die kruising te help omdat die motoriste eenvoudig nie by die robot stilhou nie en eerder daaroor jaag.”
Die karwag meen ook dat daar drie weke gelede ‘n man van Mogale City munisipaliteit daar was om die lig, wat te vinnig oorslaan, te herstel.
Dit was nadat die werker van Mogale City daar was dat die lig nie korrek werk nie.
“Mense kom na my toe op ‘n daaglikse basis en vra hoekom die robot nie werk nie. Wat moet ek vir hul sê?” vra die karwag moedeloos aan die NUUS.
