Gholfdag gehou om seun (7) te help
Ethen van Rensburg was 'n dag voor sy 7de verjaardag in 'n ernstige motorfietsongeluk saam met sy pa betrokke.

Meer as R50 000 is tydens ‘n gholfdag fondsinsameling by die Roodepoort Buiteklub in Ruimsig ingesamel om ‘n seuntjie Ethen van Rensburg (7) te help met sy mediese onkoste na ‘n motorfietsongeluk vroeër vanjaar.
Die dag is deur Mariska van Lingen, ‘n vriendin van die seun se ma Wilda gereël, en sou nie sonder die hulp van die groot borg Dynamic Eyes Oogkundiges, van wie die Van Rensburgs kliënte is, en die spelers so suksesvol gewees het nie.
Leandra Lombard, ‘n oogkundige sê meer as 80 gholfspelers het die dag saam met hulle deurgebring en het al 18 putjies van die gholfbaan kafgedraf. Al die gholfkarretjies wat die gholfbaan besit is vir hierdie geleentheid oor als uitverhuur.
Gelukkige prystrekkings met verskeie geskenkpakke was ook op die spel.
“Dit is regtig wonderlik vir al die ondersteuning wat ons van almal af ontvang het. Elke bietjie help om Ethen weer gesond te kry,” sê Leandra.
Ethen en sy pa Raymond het gedurende die skemer van 24 April, ‘n dag voor sy 7de verjaardag, vir ‘n motorfietspretrit in ‘n veld naby die Walter Sisulu Botaniese Tuine gaan ry toe hulle kop-aan-kop met ‘n ander motorfietsryer gebots het.
Wilda sê die son se strale was skerp en daar was ‘n draai in die pad, wat dit moeilik gemaak het om aankomende verkeer te sien.
“Dit was ‘n fratsongeluk. My seun het verskeie beserings opgedoen, waaronder sy bene gebreek is en hy het breinbeserings opgedoen.”
Sy sê dit is nog onseker of hy enige breinskade tydens die ongeluk opgedoen het en sal eers oor drie jaar moontlik wees om dit te kan bepaal.
“My man het ‘n senuwee by sy nek geskeur en dit het daartoe gelei dat hy die gebruik van sy regterarm verloor het. Ons hoop en vertrou dat hy die gebruik daarvan sal terugkry.”
Sy sê Ethen word tans by die Netcare Rehabilitasie-hospitaal in Auckland Park behandel en sal binnekort ontslaan word omdat die kostes te veel vir die mediese fonds raak.
“Hy sal daarna vir die volgende 18 maande drie keer per week moet gaan om hom herstel te kry.”
Raymond sê dit lyk nie of die ongeluk sy seun van motorfietse afgeskrik het nie.
“Hy vra reeds wanneer ons weer kan ry.”