Local newsMunicipalNews

Vragmotors belemmer sig van padgebruikers

Vragmotors versper die sig van padgebruikes wat van twee hoofroetes in Tarlton gebruik maak.

Vragmotorbestuurders wat wag om hulle voertuie met petrol of diesel by Transnet Pyplyne in Tarlton gevul te kry belemmer die sig van motoriste wat die N14 Ventersdorp- en R24 Krugersdorp-pad gebruik en hou ‘n gevaar vir ander in.

Amanda de Lange, Vryheidsfront Plus-woordvoerder en Wes-Rand-streekleier van die party wat self in die area woon, sê die vragmotors staan op die skouers van die paaie en wag hulle beurt af om hulle tenks vol te maak.

Die NUUS het op 18 Junie ‘n besoek daar afgelê en gesien dat die vragmotors van die vierrigtingstop af tot amper by die brug op die Ventersdorp-pad staan.

“Daar het voorheen nooit só baie vragmotors hier gestaan en wag nie en Transnet Pyplyne wil nou net verder uitbrei – dit word ‘n nagmerriesituasie.”

Sy sê die vragmotors wat so geparkeer staan was al voorheen die oorsaak van ‘n noodlottige botsing toe vragmotorbestuurders nie kon sien dat daar verkeer aankom nie.

“Die drywer se assistent het uitgeklim en sou vir die bestuurder wys wanneer hy kon ry, omdat sy sig deur die ander vragmotors wat aan weerskante van die pad staan belemmer is. Toe die assistent besig was om vir hom te beduie dat hy kon ry, het hulle nie die motor gesien wat oor die brug aangekom het nie. In die daaropvolgende botsing is hy en die motoris op slag dood.”

De Lange meen dat Mogale City Munisipaliteit se Openbare Veiligheidsdepartement verantwoordelik gehou moet word vir die ongelukke in die betrokke area.

“Daar is al verskeie kere vir hulle gevra om aandag daaraan te gee, maar sonder enige welslae. Die vragmotors word ook nou verbied om op die relatief veilige plek te staan waar hulle voorheen kon parkeer, en daar word ook nie oor ‘n alternatiewe plek met die werkgewers of die eienaar van die grond waarop hulle veilig kan staan, onderhandel nie.”

Sy sê sy voel dat dit belangrik is om uit te wys dat hierdie departemente na bewering nie hulle samewerking gee of pligte nakom nie.

“Inteendeel, hulle is instrumenteel tot die skep van ‘n lewensgevaarlike situasie omdat die trokke genoodsaak is om U-draaie op die besige pad te maak om by Transnet Pyplyne se depot in te gaan.”

Sy het bygevoeg dat vragmotorbestuurders haar ook al gebel het en gekla het dat hulle lewens in gevaar gestel word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button