Waterkrisis: pype loop weer leeg
Inwoners van Rant-en-Dal, Noordheuwel en Chancliff is weer sonder water.
Inwoners in die Rant-en-Dal-, Noordheuwel- en Chancliff-area is weer sonder water.
Lynn Pannall, Demokratiese Alliansie Raadslid vir Wyk 24 sê die probleem het begin toe die waterreservoir in Kenmare herseël is. Die waterdruk het toe opgebou en in die proses veroorsaak dat twee pype bars.
Dit is die tweede keer in ‘n maand dat inwoners van hierdie areas sonder water moet klaarkom.
Die vorige keer, op 26 Mei, het ‘n hoofwaterpyp in Bloubergstraat, Noordheuwel gebars en inwoners moes vir twee dae sonder water klaarkom terwyl munisipale werkers aan die pype gewerk het.
Die NUUS het Nkosana Zali, munisipale woordvoerder vir Mogale City Plaaslike Munisipaliteit gekontak en hy het laat weet dat hy ondersoek gaan instel en dan kommentaar sal lewer.
