Die Demokratiese Alliansie in Krugersdorp het onlangs twee nuwe raadslede verwelkom.
Nuut verkose raadslid Hetta Kruger sal Wyk 16 se publieke verteenwoordiger wees. Dié wyk bestaan uit Lewisham en ‘n gedeelte van Mindalore asook Mindalore-Noord aan die Ontdekkersweg-kant.
“Ek is deur die DA verkies as ‘n publieke verteenwoordiger-raadslid om in Wyk 16 ‘n diens aan die gemeenskap te lewer. Ek het ‘n verantwoordelikheid teenoor elke kieser om seker te maak dat munisipale dienste volgens standaard gelewer word en om in die 2016-verkiesing hierdie wyk terug te wen,” sê Kruger.
“Die DA het in 2011 die verkiesing met 139 stemme verloor. Ek is hier in Lewisham gebore en het hier grootgeword. Hier is baie uitdagings en ek sien kans daarvoor. Ek sien daarna uit om ‘n verskil in die wyk te maak en enige lid van die publiek met probleme rakende dienslewering deur Mogale City Munisipaliteit te help. Ek gaan binne die volgende maand ‘n DA-tak op die been bring sodat ons saam die probleme kan aanpak. Moenie vir jou buurman of sy vrou wag om namens jou te praat of te werk nie. Kom gerus en raak betrokke. Jy kan nie ‘n wedstryd wen as jy nie in die wedstryd is nie.”
As deel van Kruger se verantwoordelikhede gaan sy ook die gemeenskap van Soul City en Tudor Shaft in Kagiso ondersteun.
“Daar word ‘n paar projekte vir hierdie gemeenskap beplan, wat sal help om hulle lewenstandaarde te verbeter. Dit sal ‘n tydjie neem om deur die wyk te werk maar kontak my gerus met positiewe voorstelle of enige hulp by 011 955 1186 of 084 772 7579.”
Christo Peyper is nog ‘n nuut verkose raadslid. Hy gaan Wyk 23 se belange op die hart dra.
“Ek is bykans 56 jaar gelede in Krugersdorp gebore en het matriek aan Hoërskool Monument as onderhoofseun voltooi. Na verpligte militêre diensplig van twee jaar het ek in 1980 die sakewêreld in ons familiebesigheid betree. Hierdie onderneming word steeds suksesvol deur my een broer bedryf en as entrepreneur bedryf ek vir 12 jaar ook my eie ondernemings en besigheid in die dorp,” noem Peyper.
Peyper is in 1982 as kandidaat vir die Krugersdorpse Stadsraad se onafhanklike belastingbetalersvereniging gekies waar hy op verskeie komitees gedien het. Sy hoogtepunt was egter om in 1986/7 as burgemeester te dien.
“In 2003, na 11 goeie jare as kommersiële eiendom- en portefeuljebestuurder groet ek die korporatiewe besigheidswêreld en hou myself besig met my stokperdjie en passie vir musiek en mense deur opnames vir musikante en kunstenaars te maak, asook deur klanktoerusting in skole en kerke te installeer.”
Met wye ondervinding in die politieke en korporatiewe wêreld het bekommerde inwoners vir Peyper oortuig dat hy ‘n positiewe bydra kan lewer en hy het toe by die DA aansluit.
“Ek glo sterk in aanspreeklikheid en deelnemende bestuur om ‘n sterk, gemotiveerde span te bou. Dit was nog altyd deel van my prestasies deur die lewe in die algemeen. Dit sal een van my doelwitte wees om die gemeenskap van Mogale City te dien. Selektiewe politieke uitsprake in die identifisering van sleutelkwessies en veral met betrekking tot dienslewering, sal lei tot swak vaardigheid en negatiewe resultate in die algemeen.”
Peyper noem dat deursigtigheid by staatsamptenare en volgehoue pogings deur openbare en partyverteenwoordigers die enigste manier is om kiesers se vertroue te verseker en dit verminder korrupsie, nepotisme en swak dienslewering op alle vlakke van die regering.
“Ek doen ‘n beroep op inwoners om te gaan registreer.”
Na 19 jaar van agteruitgang is dit elke kieser se reg om positiewe verandering te bewerkstellig.

