Editor's choiceLocal newsNews

Mona Lisa kry nuwe eienaar

Eers is dit gesteel, toe kry dit amper twee jaar later 'n nuwe eienaar.

Die Mona Lisa-skildery van Dawid van Deventer wat op 31 Oktober, byna twee jaar gelede uit sy kunsgalery ArtArc gesteel is en vanjaar deur die polisie teruggevind is, het ‘n nuwe eienaar gekry.

“Ek was uit my vel toe dit teruggevind is en is nou in ekstase dat dit verkoop is,” sê Dawid.

Hy sê die skildery, ‘n namaaksel van die bekende skildery deur die Italiaanse kunstenaar Leonardo da Vinci, is vir sowat R48 000 aan ‘n private koper in Benoni verkoop.

Hy verduidelik dat die restourasiewerk wat hy moes doen om die skildery weer tot sy volledige glorie te herstel nadat dit beskadig is, vir hom ‘n moeilike proses was.

“‘n Mens moes die krapmerke met die regte kleur vul en om dit te kon doen moes ek baie versigtig te werk gaan.”

Dawid vertel voorts dat die skildery ook ‘n duik en voumerke gehad het wat gerestoureer moes word.

“Om die voumerke uit te haal moes ek die skildery eers met warm water behandel om dit glad en egalig te maak.”

As gevolg van die duik moes hy dele van Mona Lisa se gesig oorskilder.

Dawid van Deventer by sy Mona Lisa-skildery nadat dit deur die Krugersdorp polisie teruggevind is.
Dawid van Deventer by sy Mona Lisa-skildery nadat dit deur die Krugersdorp polisie teruggevind is.

“Dit was nogal ‘n moeilike proses om die verf se kleure en tekstuur reg te kry.”
Hy verduidelik dat hy nietemin in sy noppies is dat hy die restourasiewerk suksesvol kon afhandel.

Die skildery is op 18 Maart vanjaar aan hom terugbesorg nadat dit in ‘n nedersetting in Krugersdorp opgespoor is. Die polisie het op ‘n wenk gereageer dat ‘n motorfiets uitmekaargehaal sou word en oor die grens na Mosambiek vervoer sou word.

Speur adjudant-offisier Marius Venter het vroeër aan die NUUS gesê dat hulle die motorfiets in die opslaanhuis gekry het en ook beslag gelê het op die groot skildery wat teen die muur gehang het.

Marius het by ‘n gemeenskapslid gehoor dat daar ‘n kunsgalery by West Village is en is daarheen om te hoor of hulle ‘n inbraak gehad het.

“Toe ek die kunsgalery opspoor en die foto’s van die skildery vir die eienaar (Dawid) wys, kon hy nie glo wat hy sien nie.”

Dawid sê die nuwe eienaar het ‘n belegging gedoen deur die skildery te koop omdat dit eendag baie werd sal wees weens die kwaliteit van die werk wat daarin geploeg is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button