MunicipalNews

Openbare swembaddens word opgegradeer

Sowat R4,5 miljoen is vir die opknapping van Krugersdorp-Wes se openbare swembaddens toegewys.

Twee openbare swembad-geriewe wat na bewering vir meer as ‘n dekade lank in onbruik is, gaan nou herstel word.

Die NUUS het verlede week die openbare swembad se perseel in Gouldstraat, Krugersdorp-Wes besoek toe daar gehoor is dat hierdie swembad en die een in Azaadville herstel gaan word.

Nkosana Zali, woordvoerder van Mogale City Plaaslike Munisipaliteit sê ‘n bedrag van nagenoeg R29 miljoen is aan sport- en ontspanningsgeriewe in die 2013 tot 2014 finansiële jaar toegewys.

Sowat R4,5 miljoen daarvan gaan gebruik word vir die opknapping van die openbare swembaddens in Krugersdorp-Wes.

“Die R29 miljoen wat toegewys is, sal gebruik word vir die herstel en opgradering van geriewe – insluitend die Azaadville-swembad – deur fondse van die munisipaliteit en die Munisipale Infrastruktuurtoelaag.”

Op Woensdag 24 Julie het die NUUS en Saleem Jassat, Demokratiese Alliansie Wyksraadslid vir Azaadville gesien dat daar wel opnappingswerk by die twee openbare swembaddens in Azaadville gedoen word, wat volgens inligting reeds op 1 Julie begin het.

Ook die aantrekgeriewe, storte en badkamers word opgeknap en die deure asook die deurkosyne is reeds geverf.

Die twee swembaddens is skoongemaak en pype is van die pompe af aangelê.

Jassat sê hy is tevrede dat die munisipaliteit vordering maak met die opknapping van dié openbare geriewe en dat daar geld uit die begroting daarvoor toegewys is.

Toe die NUUS vir Zali vra of die munisipaliteit sport- en ontspanningsgeriewe as belangrik vir hulle inwoners beskou, veral nadat verskeie fasiliteite soos openbare swembaddens, tennisbane en die Bob van Reenen Stadion (wat nou opgeknap word) vervalle geraak het, het hy gesê dat dit beslis belangrik is.

“Die Johanna Botha Sportkompleks is opgegradeer, die Munsieville Sportkompleks is gebou en projekte om die Kagiso Sportkompleks en Bob van Reenen Stadion ‘n nuwe baadjie te gee, is tans aan die gang.”

Hy sê sodra Azaadville en Kagiso se plaaslike parke aangelê en vir die publiek oopgestel is, sal Kroningspark ook opgegradeer word en ‘n totale nuwe baadjie gegee word.

“Ons het ook gehelp met die stigting van die Mogale City Sportraad – dit is meer as genoeg bewyse dat ons sport en ontspanning ernstig opneem.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button