‘n Handvol diereliefde
'n Egpaar van Mindalore sien na sewe weeshondjies om nadat dié hondjies se ma na hulle geboorte dood is.
‘n Liefde vir diere het ‘n egpaar gedwing om na sewe weeshondjies om te sien toe dié hondjies se ma, wat moontlik ‘n Chow-kruising was, na hulle geboorte dood is.
Ruben Hensburg (40) wat vir Friends of Rescued Animals (Fora) werk en seker maak dat al die skenkings vir hierdie dierehawe afgehaal word, sê die werpsel het oorspronklik uit 12 babahondjies bestaan, waarvan vyf gevrek het.
“‘n Jong man het die hondjies na Fora geneem omdat hy toe nie geweet het wat om met hulle te doen nie,” sê hy.
Sy vrou Julie (42) wat dag en nag na die hondjies omsien, sê toe hulle by haar aankom het hulle soos muisies gelyk.
“Hulle is nou soos sewe babas in die huis; wanneer hulle skree weet ek hulle is honger.”
Sy voer hulle elke drie uur hondjiemelk uit drie bababottels van 120ml elk.
Julie gaan slaap eers teen ongeveer 1vm wanneer sy na al haar televisieprogramme gekyk het en staan weer teen vieruur op om die hondjies te voer.
“Eintlik bly hulle die heeltyd honger,” skerts sy.
Ruben sê sy hond Sasha, ‘n steekhaar-terrier wat nog nie ‘n jaar oud is nie, het hulle sommer as haar kinders aangeneem.
“Sy sal in hulle hok klim en hulle met hondesoene skoonlek.”
Hy sê dit is nie die eerste keer dat hulle na klein diere omsien nie.
“Hierdie is ons vierde stel, maar die eerste stel honde. Die ander diere waarna ons omgesien het was klein katjies.”
Die Hensburg-egpaar sê hulle offer hulle tyd met graagte op omdat dit vir hulle die moeite werd is om te sien watter verandering hulle in die diere se lewens kan bring.
“Ons is diereliefhebbers en al is dit soms moeilik om die diere die beste sorg te gee, is dit altyd verblydend om na ‘n paar maande te sien hoe die diere grootgeword het.”
Die NUUS het intussen verneem dat een van die hondjies uitgesit moes word omdat dié hondjie kanker op die neus gehad het.
“Dit was nie moontlik om die kanker uit te sny nie, want ‘n mens sou nie die neusie kon red nie,” sê Ruben.
Die ander ses hondjies – twee reuntjies en vier tefies – sal binnekort hulle eerste stel inspuitings kry en van twee maande af vir aanneming beskikbaar wees.
“Die eienaar van die hondjies sal hulle weer na sowat ses maande na Fora toe moet bring sodat hulle gesteriliseer kan word.”
Die koste om een van hierdie en ander honde by Fora aan te neem is R600 en sluit sterilisasie, ontwurming en al die nodige inspuitings in.
Vir meer inligting oor die aannemingsproses kan Dion Harper, die nuwe dierehawebestuurder by 011 665 9032/3 gekontak word.
