Die Perreiras mag dalk dink ‘n letterverandering in hulle van is niks om oor te lag nie, maar vir ‘n inwoner van Noordheuwel is dit ‘n lagwekkende situasie.
Martin Higgins (48) wat al sewe jaar in Perreirastraat bly se straatnaam het oornag na Pierreirastraat verander toe munisipale werkers straatnaambordjies aangebring het met die verkeerde spelling.
“Ek was in die wolke toe ek sien dat straatnaambordjies deur die munispaliteit aangebring word, maar toe besef ek dat die naam verkeerd gespel is,” sê Higgins.
Hy sê hy wil nie slegpraat van die munisipaliteit nie en verstaan dat dit ‘n menslike fout is. Hy het selfs aangebied om die koste te dra om dit reg te stel.
“Ek het die munisipaliteit gebel om dit te rapporteer waar ek genoem het dat ek die koste sal dra, maar dit is van die hand gewys en ek verstaan dit. Die straatnaambordjies is van ‘n sekere materiaal gemaak, wat byvoorbeeld snags reflekteer as motorligte daarop skyn.”
Hy reken ook dat die verkeerde spelling daartoe kan lei dat mense wat na sy adres moet gaan kan verdwaal omdat hulle nie die straatnaam kry nie.
Fritz (70) en Louise (66) Crause wat langs Higgins bly reken dat dit swak is om die straatnaam verkeerd te aan te bring.
Vrae rakende die spelling van die straatnaam is aan Nkosana Zali, Mogale City Plaaslike Munisipaliteit se woordvoerder gerig, maar geen terugvoering is teen druktyd ontvang nie.
