MunicipalNews

Begrafplaas-inwoners weer met uitsetting gedreig

“Jannie en Elsabe geniet dieselfde regte as enige ander ‘plakker’”.

Jannie Barnard (51), die selfaangestelde Burgershoop-begraafplaasopsigter, kry alweer die wind van voor.

Al verskil is dat Mogale City se regsafdeling hulle prokureur saam met ‘n privaat prokureur uitgestuur het om Barnard self in kennis te stel dat hulle moet trek.

Amanda de Lange, VF Plus Wes-Rand-streekleier, is van die situasie in kennis gestel en het onderneem om die saak te ondersoek.

“Volgens Jannie het die twee prokureurs geen dokumente van enige aard aan hulle oorhandig nie. Die prokureurs het hom en Elsabe (sy lewensmaat) blykbaar allerhande vrae gevra, notas gemaak en hulle toe aangesê om dadelik te trek want Mogale City beplan om die ou begraafplaas op te gradeer. Hierdie begraafplaas was vir jare ‘n hewige kopseer vir die raad aangesien daar geen sekuriteit is nie, en die grafte gereeld geplunder en beskadig is. Die omheining is ook gereeld erg beskadig en plek-plek afgebreek.”

Volgens De Lange het sy die beoogde opgradering van die Burgershoop Begraafplaas met Mogale City opgevolg maar daar is blykbaar geen planne om die begraafplaas binne die afsienbare toekoms verder op te gradeer nie. Die begraafplaas is wel oud maar dit is netjies.

Jannie en Elsabe het met hul intrek sowat 10 jaar gelede hulself oor die begraafplaas ontferm deur elke dag gereeld patrollie te doen en die heining te inspekteer. Die besoekers vra vir Jannie en Elsabe waar die grafte is wat hulle wil besoek aangesien daar ook nie meer duidelike grafnommers is nie en die meeste plaatjies afgesteel is.

Wanneer van die dubbele grafte vir ‘n begrafnis oopgemaak moet word, vra die begrafnisondernemers vir Jannie om die area om die graf skoon te maak en die takke van oorgroeide bome terug te snoei – ‘n taak wat Jannie en Elsabe met liefde en toewyding doen juis om terug te gee omdat hulle daar woon.

Daar was al voorheen soortgelyke insidente waar Mogale City gedreig het om vir Jannie en Elsabe uit te sit, waarna hy aangebied het om amptelik na die begraafplaas om te sien en gratis instandhouding te doen in ruil vir hulle verblyf.

Die amptenare het gesê dat hulle met ‘n antwoord op die voorstel na hulle sal terugkom, maar hulle het niks weer gehoor nie totdat die prokureurs voorverlede week by hulle was.

Jannie sê hy het De Lange uit radeloosheid geskakel om te help om die saak met Mogale City te besleg.

Volgens De Lange is daar prosedures wat gevolg moet word; dit is nie net vir ‘uitsit’ nie, sê sy.

“Kyk hoeveel jaar baklei ons al met Mogale City om die plakkers uit die Paul Kruger-saal in Krugersdorp-Wes te kry – sonder enige sukses. Die huidige plakkers in die saal is lankal nie meer die aanvanklike groep xenofobievlugtelinge wat die raad vier tot vyf jaar gelede tydelike huisvesting daar gegee het nie.

“Jannie en Elsabe geniet dieselfde regte as enige ander ‘plakker’” sê sy.

De Lange meen sy wil haar net eers vergewis van die motivering agter die twee prokureurs se besoek, asook die rede wat hulle aangevoer het wat na bewering nie strook met inligting wat sy self bekom het nie.

Benewens die sekuriteit, hulp aan die gemeenskap wat die grafte besoek en die versorging van al die hawelose diere wat deur hul eienaars by die hope by die begraafplaas afgelaai word, doen hulle moeite om die plek so netjies en veilig moontlik te hou met die beperkte gereedskap tot hulle beskikking.

De Lange meen dat Mogale City in elk geval voltydse sekuriteitswagte teen hemelhoë koste by hierdie begraafplaas moet plaas, want geen plek in die land kan meer onbewaak gelaat word weens kriminele elemente nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button