‘n Foutiewe verkeerslig op die hoek van Voortrekker- en Terenureweg sal vandag 14 Augustus moontlik die oorsaak van ‘n verkeersopeenhoping wees.
Padgebruikers moet dus geduldig wees by dié interseksie en nie toelaat dat oorhaastigheid om oor die verkeerslig te jaag tot ‘n ongeluk lei nie.
Die NUUS het vandag daarvan bewus geword toe ‘n verslaggewer daar stilgehou het en gesien het dat die verkeersligte op hierdie hoek nie reg werk nie aangesien dit te vinnig van kleur verander.
Nadat daar langs die pad stilgehou is om ondersoek in te stel is daar met ‘n stophorlosie getoets en bevind dat die verkeerslig vir verkeer op Voortrekkerweg slegs 16 sekondes groen bly voordat dit na ‘n oranje lig oorslaan wat vir nege sekondes lank so bly voordat dit na ‘n rooi lig oorslaan.
Padgebruikers, insluitend vragmotorbestuurders, maak van die geleentheid gebruik om vinnig oor die pad te jaag wanneer hulle agterkom dat die oranje lig nog nie na rooi oorgeslaan het nie.
Vir motoriste wat van Terenureweg in Voortrekkerweg wil indraai bly die verkeerslig slegs vir 10 sekondes groen voordat dit na oranje oorslaan.
Padgebruikers moet dus geduldig wees by dié interseksie en nie toelaat dat oorhaastigheid om oor die verkeerslig te jaag tot ‘n ongeluk lei nie.
Die NUUS verstaan dat die betrokke verkeerslig ook op 26 Julie probleme veroorsaak het toe die kleure binne enkele sekondes oorgeskakel het, maar is die volgende dag reggestel.
Vrae vir kommentaar is aan Nkosana Zali, Mogale City Plaaslike Munisipaliteit woordvoerder gerig, maar geen terugvoering is tot op hede ontvang nie.
Maak jy van hierdie pad gebruik? Laat weet ons indien jy probleme met die verkeerslig ondervind het.