MunicipalNews

Wat is Batho Pele nou eintlik?

Die mense is nie dom nie en hulle kan net vir `n sekere tyd om die bos gelei word.

Die Sentrale Krugersdorp Wyk 20 se DA raadslid Jakkie Naudé wil weet wat Batho Pele regtig is.

Batho Pele is op 1 Oktober 1997 met groot entoesiasme deur die regering aangekondig en daar was orals plakkate en advertensies. Dit het buite en binne kantore verskyn om te verduidelik hoe alle amptenare die publiek moet behandel.

“Helaas, die plakkate en Batho Pele het verdwyn.

“Dit wil voorkom of Batho Pele nooit bestaan het nie, veral nie vir die “Apple Parkers” van Mogale City Munisipaliteit nie.

“Wanneer hierdie arm, werklose, desperate en hulpsoekende mense die amptenare gaan vra dat die Raad se huise herstel moet word, word vir hulle gesê om `n ander dag te kom omdat hulle (die amptenare) te besig is of dat daar nie geld is om die huise te herstel nie.

“Die Apple Parkers word vertel dat hulle moet wag tot die volgende finansiële jaar.

“Hierdie weerlose mense moet maar hierdie antwoorde aanvaar, omdraai en al die pad terugstap na onversorgde, verwaarloosde, stukkende huise wat hulle by die Raad huur.”

Raadslid Naudé sê dat daar 166 raadshuise aan mense verhuur word. Sedert 2009 net voor die verkiesing is daar 33 huise aan die inwoners oorhandig. In 2011 ook net voor die verkiesing is weer net 33 huise oorhandig. Hierdie huise is voetstoots oorhandig.

“Honderd huise gaan nog oorhandig word. Die vraag is wanneer? Elke keer as daar `n verkiesing is? 2014 se verkiesing is om die draai en daar sal seker net voor daardie datum weer huise oorhandig word.

“Hierdie huise is werklik in `n vervalle toestand en dit sal die raad ongeveer R100 000 elk kos om te herstel. Hulle is in1994 laas geverf, die geute het sleg verroes, geisers is stukkend en elektriese bedrading is swak.

“Dit is mos goedkoper om die huise se oordragkoste te betaal en te oorhandig. Daarom word geen poging aangewend om die huise wat nog nie toegewys is nie, reg te maak. (Slim van die Raad, nè?)”

Raadslid Naudé wil weet wanneer die Raad die elektriese bedradingsertifikate aan die nuwe huiseienaars gaan oorhandig.

“Daar is mos `n wet wat huiseienaars verplig om genoemde sertifikate aan die nuwe eienaar te oorhandig. Hierdie voetstootse oorhandiging kan beteken dat die wet omseil word. Is hierdie behandeling van arm mense die huidige regering se Batho Pele?

“Die mense is nie dom nie en hulle kan net vir `n sekere tyd om die bos gelei word. Die volgende verkiesing is net om die draai en hulle sal sekerlik nie stem vir mense wat hulle nie behandel volgens Batho Pele-reëls nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Back to top button