Gaan groot op Loslitdag
Die geld wat ingesamel word gaan aan verskeie organisasies.

Loslitdag vind op Vrydag 6 September plaas en die aktrise en radio-omroeper Philicity Reeken (bekend vir haar rol in Binneland) moedig alle Suid-Afrikaners aan om hul Loslitdag-plakkers te dra want elkeen se bydrae van R10 per plakker maak ‘n groot verskil in the lewens van mense met gestremdhede.
Loslitdag is ‘n projek van die Nasionale Raad vir Persone met Liggaamlike Gestremdhede, ’n nie-winsgewende nasionale organisasie wat hom beywer om die behoeftes van persone met gestremdhede aan te spreek. Vir die afgelope 18 jaar vind Loslitdag jaarliks plaas op die eerste Vrydag van September.
“Die projek het verlede jaar R22,2 miljoen ingesamel,” sê Philicity.
“Vanjaar wil ons nog groter gaan. Loslitdag is die belangrikste fondsinsamelingsprojek van sy soort en my werk is om mense bewus te maak van die goeie werk wat vermag word daardeur.”
Die projekbestuurder, Celeste Vinassa sê dat hulle met hierdie uitreiking hul veldtogte wil verbeter om sodoende meer Suid-Afrikaners te bereik om by te dra tot die Loslitdag. “Een R10-noot het nou ’n baie groot impak op the lewens van baie mense met gestremdhede.”
Die geld wat ingesamel word gaan aan verskeie organisasies.
Doen dit groot! Groot is nie klein nie! Kry vir jou ‘n plakker of tien, of trek vir jou ‘n groot baadjie aan, of ‘n groot hoed, ‘n groot broek, ‘n groot snor – groot is die wagwoord. Dra jou plakker of sommer ‘n handvol plakkers, maak ‘n groot lawaai om persone met gestremdhede te ondersteun!
Kry jou plakker by Edgars, Jet, JetMart, Boardmans, CNA, Red Square, Legit, Absa, Game, DionWired, Checkers, Checkers Hyper of enige organisasie wat aan Loslitdag deelneem (vir volledige lys besoek www.casualday.co.za).
Vir meer inligting oor Loslitdag of om ’n bydrae te lewer, skakel Loslitdag se kantoor by 011 609 7006.
