Met die NUUS se ondersoek wil dit voorkom of inwoners steeds sonder water is.
Die verslaggewer, Jacobus Myburgh is toe na die Kenmare waterreservoir op Shannonweg waar die water klaarblyklik uitgeloop het nadat dit gebars het.
Daar het hy gesien hoe werkers van Mogale City Plaaslike Munisipaliteit besig was om aan die probleem te werk asook verskeie ontevrede inwoners teëgekom.

Inwoners sal water by hierdie punte kan kry:
• Rangeview — Panorama Estate.
• Noordheuwel, Kenmare, Rangeview en Monument — Noordheuwel Pick n Pay op die hoek van Shannonweg en Bellstraat en by die Kenmare waterreservoir op Shannonweg.
• Rant-en-dal — Rant-en-Dal Spar op Cecil Knightstraat.
Watertekort jaag die bloeddruk op
Die watertekort wat dele van Kenmare, Noodheuwel, Rant-en-Dal en Chancliff ondervind, sou glo teen etenstyd iets van die verlede wees, maar inwoners en instansies in die omgewing sê dat hulle waterpype steeds droog is.
Die NUUS is oorval met oproepe en navrae oor wanneer die watertoevoer weer herstel sou wees en wat die rede vir die watertekort is.
Hoërskool Noordheuwel was gister 3 September die gasheer vir ‘n atletiekbyeenkoms waar gaste soos Hoërskool Menlopark van Pretoria teenwoordig was.
Sakkie le Roux, adjunkhoof van Hoërskool Noordheuwel sê dat hulle voor die byeenkoms skielik agtergekom het dat daar nie water by die skool is nie en moes inderhaas planne maak om seker te maak dat daar water vir die toiletgeriewe is.
“Sleepwaens vol water is by die badkamers geplaas waarmee die toilette gespoel is.”
Hy sê dit is swak van die munisipaliteit om inwoners en veral instansies soos skole nie vooraf in kennis te stel dat die watertoevoer onderbreek gaan word nie.
Yvette Moolman, die skool se woordvoerder sê die leerlinge deel tans een badkamer.
“Van die leerlinge het gekla en gesê dat hulle huis toe wil gaan. Die watertekort maak dit onaangenaam hier.”
Bernice Nel, die vrou van motorneuronsiektelyer Deon Nel sê sy het die munisipaliteit vandag geskakel en gehoor dat die laagliggende gebiede water sal hê, maar dat die hoërliggende gebiede se watertoevoer eers teen 28 September ten volle herstel sal wees.
“Dit is regtig telleurstellend dat hulle ons nie vroegtydig oor die situasie in kennis gestel het nie. Deon moet gebad word en water kry, daarom het ek sy verpleegsters Noordheuwel Sentrum toe gestuur om daar water te gaan haal.”
Sy sê sy gebruik tans water uit hulle swembad vir die toilet in die huis.
Nkosana Zali, die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit se woordvoerder sê dat ‘n reservoir in Kenmare gebars het en al die water gevolglik uit dié reservoir gevloei het.
‘n Bron het aan die NUUS gesê dat die munisipaliteit besig is om ‘n pyp aan te lê wat verby die reservoir loop om die watertoevoer te herstel.
