Na maande se wag het die hof uiteindelik beslis dat Mogale City Munisipaliteit die informele inwoners in die Paul Kruger gemeenskapsaal mag verwyder, tensy die inwoners ‘n rede kan aanvoer hoekom hulle nie moet skuif nie.
Om die saal aan die gemeenskap terug te gee vir hulle gebruik is ‘n saak na aan die DA raadslid van die wyk, Matthys van Tonder, se hart.
Raadslid Van Tonder het al in Januarie die grond in Munsieville besoek wat vir die inwoners van die saal uitgesit is.
Die grond is voorberei maar toe die mense van die saal nie trek nie, het die grond weer met onkruid toegegroei. Die munisipaliteit wag nou vir die finale uitsettingsbevel van die hof, voor hulle begin optree.
Raadslid Van Tonder is verseker dat die mense binne die volgende twee maande verwyder sal word, maar die munisipaliteit dreig al vyf jaar lank om dit te doen. Die raadslid voel egter dié keer dat dinge in die regte rigting beweeg.
Daar is alternatiewe blyplek vir die plakkers gereed en die hof het in die munisipaliteit se guns beslis.
Dit sal egter nie net ‘n oorwinning vir die raadslid wees wanneer die mense trek nie.
Dit sal ook ‘n oorwinning wees vir die belastingbetalers wat al baie jare die gelag moes betaal vir die mens se onwettige okkupasie van die saal, om nie eers te praat van die wyk se bate wat onbruikbaar vir die gemeenskap was nie.
