Editor's choiceLocal newsNews

Stoptekens word geïgnoreer

'n Inwoner van Rangeview sê dat bestuurders nie die padreëls nakom nie en die pad as 'n renbaan gebruik.

‘n Stopteken beteken volgens die padreëls dat ‘n bestuurder van ‘n voertuig moet stilhou, weerskante toe kyk en as dit veilig is weer voortry, maar ‘n inwoner van Rangeview voel dat die stoptekens in sy omgewing geïgnoreer word.

“Die inwoners van hierdie omgewing ignoreer hierdie reël by verskeie geleenthede en ek het al in die verlede voorspel dat daar waar ek bly, ‘n ongeluk nog gaan plaasvind,” sê David Kahn.

Sy eiendom in Witpeerstraat word aan die een kant deur die T-aansluiting met Belllaan en aan die ander kant deur die T-aansluiting met Simon Bekkerlaan begrens.

‘n Ongeluk vroeër vandeesmaand by die T-aansluiting van Witpeerstraat en Simon Bekkerlaan staaf hierdie stelling.

“Is dit nie genoeg bewyse dat die verkeersdepartement dit moet oorweeg om spoedhobbels in die pad te plaas nie? Of gaan hulle weer die verskoning gebruik dat dit die reaksietyd van nooddienste en die polisie gaan vertraag?

“Moet iemand eers sterf voordat daar iets gedoen gaan word?”

Kahn sê hy het al tydens verskeie Gemeenskapspolisiërings- (GPF-) vergaderings die gevare uitgelig wanneer motoriste nie by die stoptekens stihou nie en net oorry as hulle nie aankomende verkeer sien nie.

“Dit is gevaarlike hoeke, want bestuurders kan nie altyd sien of ‘n ander voertuig aankom nie en dit is juis wanneer ongelukke gebeur.”

Hy sê hy wil graag weet of die plaaslike owerheid te bang is om aksie te neem, en of hulle met gunsies beloon word om al die hulpkrete te ignoreer.

“Ek kan nie help om te wonder wat die doel is dat die verkeersdepartement die GPF-vergaderings bywoon, die klagtes aanhoor, maar steeds die gebiede wat aan hulle uitgewys word, ignoreer nie.”

Die NUUS se verslaggewer het besluit om self ondersoek in te stel en binne enkele minute nadat hy vir Kahn by die T-aansluiting ontmoet het, het hy self gesien hoe sommige voertuie net stadiger ry en as hulle geen aankomende verkeer sien nie, net oorry.

Die bestuurder van ‘n minibustaxi vol passasiers was een van die oortreders wat nie die reëls nakom nie.

Kahn sê dat hy al gesien het hoe die bestuurders van onderskeidelik ‘n Lexus en BMW die strate as ‘n renbaan beskou, maar dat sy klagtes daaroor ook geïgnoreer is.

“Ek wil hê dat hierdie oortreders vasgevat word en dat onskuldige voetgangers en ander padgebruikers oor die gevare van veral hierdie twee T-aansluitings bewus gemaak word voordat iemand raakgery en ernstig beseer word, of selfs as gevolg daarvan sterf.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button