Bok-ondersteuners vang gees by Silverstar
As daar 'n Wallabie-ondersteuner by Saterdag se Absa Boktown by Silverstar Casino was sou hy of sy heel moontlik ook omhels geword het.
Die Springbokke doen dit wéér!
Dit was beslis ‘n nagmerriewedstryd vir enige Wallabie-ondersteuner toe die Springbokke hulle op 28 September met 28 teenoor 8 in ‘n Castle Lager Rugbykampioenskap-wedstryd in die Nuweland-stadion in Kaapstad geklop het.
Die spanning op die veld was hoog, met ‘n paar spelers wat mekaar kort-kort met die vuiste wou bykom. Vuilspel het tot drie geelkaarte gelei, maar ten spyte daarvan sou enige Wallabie-ondersteuner skaam gekry het as hulle tussen al die Springbok-ondersteuners by Silverstar Casino se Absa Boktown gesit het – dis te sê as hulle dit sou waag.
Die gees en ondersteuning was onbeskryflik en ekstra stoele moes ook inderhaas ingedra word toe die lokaal vinnig vol ondersteuners geword het.
Sommige het uitgedos gekom in groen rugbytruie, geverfde gesigte, die Suid-Afrikaanse landsvlag en ander Springbok-memorabilia.
Met ‘n groot skerm en ander televisiestelle se hoëdefinisiebeeldsendings het ondersteuners nie ‘n oomblik van die aksie misgeloop nie, selfs wanneer ‘n vinnige keelnatmakertjie gekry moes word.

Wanneer dit gelyk het of die Bokke al hoe nader aan die doellyn kom, het die ondersteuners op die punte van hulle stoele gesit en elke oomblik met valkoë dopgehou terwyl die sweet heel moontlik van hulle voorkoppe begin afloop het. As daar wel ‘n Wallabie-ondersteuner in die Bok-ondersteuners se kamp was, sou hulle hom of haar heel moontlik ook van vreugde gedruk het wanneer die Bokke punte aangeteken het.
Ondersteuners kon ook met ‘n paar pryse wegstap terwyl die steltlopers die kinders met hulle toertjies en met hulle vermoë om ballonne in diertjies te verander, vermaak het.
Die Springbokke kom eerskomende Saterdag 5 Oktober in die Ellis Parkstadion in Johannesburg teen Nieu-Seeland te staan.
Al die aksie kan teen R30 ‘n kaartjie – wat ‘n gratis promosiedrankie insluit – weer by Silverstar se Absa Boktown beleef word.
Verversings sal ook te koop wees.
Kaartjies kan by Computicket of op Silverstar Casino se webwerf gekoop word.

