Ballonne ter nagedagtenis
Krugersdorpers het rooi ballonne die lug ingestuur om hulle misnoeë te kenne te gee met die aantal moorde op boere en hulle werkers.
Op 10 Oktober het ‘n groep inwoners van Krugersdorp rooi ballonne losgelaat ter nagedagtenis aan die duisende Suid-Afrikaanse boere en hulle werkers wat deur die jare aangerand en vermoor is.
Hierdie gebaar was deel van Rooi Oktober-dag waartydens Suid-Afrikaners regoor die land optogte en byeenkomste gehou het om hulle misnoeë met die huidige situasie in Suid-Afrika aan die wêreld bekend te maak en te wys dat hulle genoeg gehad het.
Elma Geldenhuys het die geleentheid in Krugersdorp gereël en dit oor sosiale netwerke soos facebook bemark.
Sy sê sy het besluit om deel te wees van hierdie veldtog omdat sy self deur misdaad geraak is.
“My ouma Fan Liebenberg (80) is in Augustus 2011 in haar huis in Nicolas Smitstraat in Monument vermoor en dit is my manier om te wys dat hierdie misdade moet end kry.”
Henry Smith (45) wat op ‘n kleinhoewe in Krugersdorp woon, sê hy het besluit om tyd af te staan omdat hy al moeg is vir al die plaasmoorde wat in die land gepleeg word.”
Elma sê hulle het almal by McDonald’s-restaurant in Luipaardstraat bymekaargekom waarvandaan hulle met hulle voertuie na die Tarlton Internasionale Renbaan gery het om omstreeks 12.30nm sowat 100 omgewingsvriendelike rooi ballonne die lug in te stuur.
