MunicipalNews

Vryheidsfront gee hulle siening oor watertekorte

"Die een beskuldig die ander en intussen raak inwoners die harnas in oor die voortslepende probleem."

Dit blyk dat Mogale City Munisipaliteit en Rand Water vinger na mekaar wys oor die onlangse watertekorte in dele van Krugersdorp.

Volgens inligting wat Amanda de Lange, VF Plus Raadslid vir Mogale City en mediawoordvoerder van die VF Plus in Gauteng ingewin het, beweer Mogale City dat hulle wel ‘n tydelike noodlyn in werking het om die herstelproses van die Kenmare reservoir te akkommodeer. Volgens die bron is daar geen rede waarom daar die afgelope weke herhaaldelik wateronderbrekings was nie.

Mogale City beweer dat Rand Water by tye nie water deurgee nie en dat daar geen waarskuwing of verduideliking van hulle kant af is nie.

“Rand Water ontken egter die bewering en wys die vinger na Mogale City.

“Inwoners, besigheidseienaars en skole is woedend omdat daar geen reaksie op hul navrae van die Mogale City Waterdepartement af is nie. Ek het ook al heelwat navrae en korrespondensie namens die mense aan die stadsraad gestuur om ‘n verduideliking te kry, maar die fone word nie geantwoord of daar word onbevredigende en ontwykende antwoorde gegee.

“Die een beskuldig die ander en intussen raak inwoners van Noordheuwel, Kenmare, Rangeview, Monument, Rant-en-Dal, Featherbrook Estate en Muldersdrift die harnas in oor die voortslepende probleem,” sê De Lange.

Volgens haar dreig huiseienaars en besighede met protesoptogte en regstappe om te kompenseer vir die verliese wat gelei word. “Ons kan hulle nie blameer nie,” sê sy want die aanvanklike probleem sou ongeveer ‘n maand geduur het, maar dis al in die middel van Oktober en geen behoorlike kommunikasie is met die betrokke gemeenskappe gevoer nie.

Hoewel die munisipaliteit op 14 September vir die eerste keer sedert begin September op hulle webwerf en looklocal aangedui het dat die watertekorte nog tot 31 Oktober gaan duur, het hulle geen verduideliking gegee waarom die watertekorte nog ‘n maand langer gaan duur as wat aanvanklik beplan is, terwyl die nodige noodvoorsorg deur middel van ‘n alternatiewe pypleiding in plek is nie.

Rand Water beweer dat hulle voor elke roetine-herstelwerk aan waterpype eers toestemming by Mogale City Munisipaliteit kry sodat die munisipaliteit dit aan verbruikers kan deurstuur. Herstelwerk was egter die afgelope Saterdagmiddag tot Sondagoggend vroeg gedoen sonder dat inwoners of besighede vooraf in kennis gestel is.

“Mogale City Munisipaliteit beskik oor ‘n datalys van sy waterverbruikers met die nodige kontaknommers. Daar word op ‘n gereelde basis waarskuwing-sms’e uitgestuur na mense wat nalaat om hul diensterekeninge te betaal. Daar is dus geen verskoning waarom hierdie inligting nie vir die doel van voortydige kennisgewing vir beplande tye van wateronderbrekings gebruik kan word nie,” sê De Lange.

“Dit is die stadsbestuurder se verantwoordelikheid om toe te sien dat die nodige sisteme in plek is om inwoners en besighede op hoogte te hou van die verwikkelinge rakende die waterprobleme. Hierdie mense is belasting- en dienstebetalers van Mogale City en het regte. Dit is verstaanbaar dat krisisse kan ontstaan, maar die hantering daarvan en kommunikasie met geaffekteerde partye bepaal of die probleme effektief en bevoeg hanteer word.

“Dit is reeds moeilik genoeg vir besighede om kop bo water te hou en probleme soos hierdie kan ‘n eienaar sy besigheid kos,” sê De Lange.

“Ons ontvang heelwat oproepe elke oor die watersituasie en beoog om regsadvies namens ons kiesers in te win. Mogale City sal verantwoordelikheid moet aanvaar vir hulle aandeel aan die ongeskeduleerde en voortslepende watertekorte, hetsy dit Rand Water se skuld is of Mogale City s’n.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button