
‘n Bejaarde egpaar sukkel al vir die grootste deel van die jaar om die munisipailteit sover te kry om ‘n gebreekte watermeter by hulle huis reg te maak. Dit veroorsaak dat hulle waterlesings buitensporig hoog is en dat hulle ‘n kennisgewing vir onwettige waterverbruik ontvang het.
Manie en Finie Santos, wat al 44 jaar in Mindalore woon, moes die verskoning aanhoor dat die munisipale werkers nie toegang tot die watermeter het om dit reg te maak nie.
“Dit is ‘n belaglike situasie, want ons erf is oop so hulle kán inkom en kyk wat die probleem is,” sê Manie.
Hy verduidelik dat hulle baie spaarsaam met hulle water werk en elke keer die gratis seskiloliter-merk gehaal het. In Februarie vanjaar was die lesing op hulle maandelikse water- en elektrisiteitsrekening skielik 88 kiloliter.
Die daaropvolgende maand was die skok nog groter toe die rekening aandui dat hulle 216 kiloliters water gebruik het.
“Dit is amper die hele Mindalore se waterverbruik!” redeneer Manie wat verduidelik dat hulle nie eers ‘n swembad het om vol te maak nie.
“Ons werk spaarsamig met die water, want sodra ons klaar gebad het word selfs die gryswater vir die tuin gebruik.”
Nadat hy die tweede keer ‘n verkeerde lesing ontvang het en alles probeer het om die munisipaliteit sover te kry om na die watermeter te kom kyk, het hy self ‘n onafhanklike loodgieter laat kom om te kyk of daar nie enige lekkasies is nie.
“Die loodgieter het nie waterlekke gekry nie, maar wel gesien dat die watermeter vasgehaak het omdat dit oud is.”
Bewyse deur middel van foto’s is aan die munisipaliteit verskaf, maar hulle noodkrete val steeds op dowe ore.
“Ons voel wat hier aangaan is verkeerd. Ons bly dit aanmeld en wanneer ons navraag doen dan word ons geviktimiseer,” sê Manie.
André Stols, die egpaar se skoonseun sê verskeie e-posse is al aan die munisipaliteit gestuur, maar geen terugvoering is nog ontvang nie.
“Ons begin nou regstappe teen die munisipaliteit oorweeg.”
