Kwaaddoeners skend geskiedkundige grafte
Die Joodse gemeenskap is geskok oor die skade wat aan hul geloofsgenote se grafte aangerig is.
Twee-en-dertig grafte in die Joodse deel van die Burgershoop Begraafplaas is geplunder toe vandale Saterdag 26 Oktober helder oor dag op die begraafplaas toegesak het.
Ooglopende skade soos graftstene wat onderstebo lê en beelde wat stukkend is, doen nie net afbreuk aan die beeld van die begraafplaas nie maar kan ook volgens Demokratiese Alliansie-raadslid vir Wyk 20, Jakkie Naudé derduisende (indien nie miljoene nie) rande kos om te herstel.
Die begraafplaas met grafte uit die Anglo-Boereoorlog wat tevore ‘n toeriste-aantreklikheid was, het lankal reeds ‘n speelplek vir kwaadoeners en vandale geword maar volgens Naudé is dit die eerste keer dat die Joodse grafte geteiken word.
“Die Joodse grafstene is van die duurste in die begraafplaas en dateer terug na 1894,” vertel hy.
Sedert die Joodse gemeenskap hulle 120 jaar gelede in Krugersdorp gevestig het, het hulle getalle van 1 000 tot ongeveer 80 inwoners afgeneem.
Die klein dog aktiewe gemeenskap is geskok oor die skade en het glo reeds met ‘n fondsinsameling begin om die grafte te herstel.
Alhoewel die grafte moontlik deur die fondsinsameling gered kan word, lê die wyksraadslid se grootste hartseer in die feit dat geskiedenis nou verlore is.
Die NUUS het voorheen die Mogale City Parkeraad genader vir kommentaar oor die toestand van die begrafplaas waarop hul geantwoord het dat die families van die afgestorwenes die grootste deel van die verantwoordelikheid moet dra om grafte in stand te hou.
Naudé voel dat so ‘n gesindheid verregaande is omdat die nageslagte van dié wat in die begraafplaas begrawe is, reeds uitgesterf het.
Hy het in sy hoedanigheid as raadslid ‘n brief aan die stadsraad gerig waarin hy vra dat ‘n opsigter by die begraafplaas geplaas word om verdere skade te verhoed.
