Vier waterpype het in ‘n kwessie van vier dae in Buitenstraat, Krugersdorp-Noord gebars en inwoners wil die aandag daarop vestig dat duisende liters water in die proses gemors word.
Ons as belastingbetalers gaan natuurlik vir die watervermorsing betaal — Ruwena Van der Horst.
Ruwena van der Horst, ‘n pensioentrekker wat reeds 33 jaar in die straat woon, sê die probleme het reeds verlede jaar begin, maar dat die insidente sedert 26 Oktober die ergste was.
“Dit moet die gevolg van ou infrastruktuur wees,” sê sy.
Water het uit die eerste pyp wat gedurende die vroeë oggendure van Saterdag 26 Oktober gebars het, tot naby die etensuur gestroom voordat die munisipaliteit se werkers dit begin herstel het.
“Die waterpyp het omstreeks 3vm gebars. Ek en my buurman het dit by die munisipaliteit gerapporteer sodat hulle dit kon kom regmaak.”
Die werkers het eers omstreeks 11.30vm daar opgedaag en intussen het duisende liters water in die straat en in hulle erwe ingestroom.
“Ons as belastingbetalers gaan natuurlik vir die watervermorsing betaal,” redeneer Van der Horst.
Daar het op die daaropvolgende Sondag en die Maandag nog pype gebars en liters water is weer in die proses vermors.
Intussen het die brandkraan ook begin lek.
Lynn Zwanhuizen kon Maandag nie by die werk uitkom nie omdat ‘n gebarste waterpyp te veel skade voor haar erf aangerig het, en sy skaars haar erf kon verlaat.
Sy en Van der Horst is dit eens dat wanneer die munisipale werkers wel opdaag, hulle hard werk om die pype te herstel.
Oomblikke nadat die NUUS daar was om foto’s te neem, het daar weer ‘n pyp gebars.
Dink lesers dat nog pype gaan bars en is dit die gevolg van verouderde infrastruktuur? Lug gerus jou mening op ons webblad by www.krugersdorpnews.co.za.
