Editor's choiceLocal newsNews

R24: verkeersbeamptes moet sigbaar wees

Twee inwoners van Tarlton reken dat die R24 sy naam as die pad van die dood gestand doen.

Twee inwoners van Tarlton voel dat die R24 (Albertina Sisuluweg) sy naam as die pad van die dood gestand doen aangesien daar maklik elke maand ‘n ernstige ongeluk voorkom.

Dit volg nadat 32 kinders van die Unity Primary School beseer is toe die bussie waarin hulle skool toe gery het, omgeslaan het.

Die presiese gebeure wat tot die ongeluk gelei het, is nog nie bekend nie.

Linda Hartzer (51) en Fransie Smuts (60), omstanders by die toneel sê hulle reken dat verkeersbeamptes van Mogale City Plaaslike Munisipaliteit meer sigbaar op dié pad moet wees.

“Ons is nie seker wat presies hier gebeur het nie, maar mense jaag gedurig op hierdie pad en neem glad nie die spoedbeperkings in ag nie,” sê Smuts.

Hartzer sê elke keer wanneer sy van ‘n ongeluk hoor, kry sy ‘n knop in die keel.

“My kinders gebruik hierdie pad en wanneer ek van ‘n ongeluk hoor, dan dink ‘n mens dat dit hulle kan wees – die gereelde ongelukke gee ‘n mens koue rillings.”

Sy sê die ongeluk waarin leerlinge van tussen vyf en 15 jaar oud beseer is, maak haar hartseer.

“Dit is kindertjies! Ouers sit hulle kind in die bus met die hoop dat hulle veilig by die skool sal aankom.”

Hartzer sê sy gebruik self hierdie pad en ‘n mens moet reeds lank voordat jy wil draai jou flikkerlig aansit om ander voertuie te waarsku.

“Soms help dit ook nie, want party vlieg steeds by jou verby.”

Sy dink as die pad by die afdraaie verdubbel word, sal daar reeds ‘n verbetering wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button