CrimeLocal newsNews

Mislukte poging tot moord: hof hoor details

Sy sou die mans R50 000 betaal om haar man te vermoor, maar toe oorleef hy 14 messteke.

Trane het op die getuiebank geval toe Elize Vermaak by die hof om versagting pleit nadat sy skuldig bevind is van poging tot moord op haar man, Jacques Vermaak.

Elize en haar twee medepligtiges, wat sy na bewering R50 000 sou betaal om haar man te vermoor, Chris Koch (38) en Heinrich Croft (26) het in die Krugersdorp Magistraatshof op Woensdag 20 November verskyn.

Jacques het oorleef nadat hy op Valentynsdag in 2010 in sy huis in Kenmare 14 keer met ‘n mes gesteek is terwyl sy twee kinders in die huis was.

Die hof het getuig dat Elize aanvanklik aan die polisie vertel het dat sy deur die twee mans geroof is en dat sy met ‘n mes gedreig is om hulle na haar huis te neem waarna haar man aangeval is.

Sy het later erken dat hul kennise is en dat sy saam met beskuldigde nommer een, Koch beplan het om haar man te vermoor.

Speurder adjudant-offisier Ben Booysen wat die saak ondersoek het, het onraad vermoed toe hy oplet dat Elize nog al haar juwele aangehad het en dat niks in die huis gesteel is waar die aanval plaasgevind het nie.

“Ek het besluit om verdere ondersoek in te stel en het daardie selfde aand vir Koch en Croft onder ‘n boom naby die huis gevind. Albei se klere was oortrek met bloed en daar is later bevind dat hulle ten tyde van die arrestasie onder die invloed van drank en dwelms was,” vertel Booysen.

Elize en die medepligtiges is later op borgtog van R5 000 vrygelaat waarna Koch nie die borgooreenkomstes nagekom het nie en weer in aanhouding geplaas is.

Elize wat in die hof as beskuldigde nommer drie gestaan het, het getuig dat sy wel met Koch bespreek het dat sy van haar man ontslae wil raak maar dat die aanval op 14 Februarie 2010 nie op haar aandrang was nie.

Sy het vertel hoe sy mishandel is in haar huwelik en minstens twee maal per maand deur haar man verkrag is en dat sy te skaam was om dit te rapporteer of om regshulp te vra sodat sy van hom kan skei.

Sy het een geval aan die hof voorgelê waartydens haar man haar beweerdelik in die badkamer van hul huis verkrag het.

“My knieë was stukkend gestamp teen die grond en ek het inwendige beserings opgedoen,” het sy getuig.

Sy het ook genoem dat haar man na bewering verslaaf is aan pornografie en dat sy gereeld die “toertjies moet uitvoer wat hy op pornografiese videos gesien het”.

“Ek sou betaal word volgens my ‘performance’, dis die enigste inkomste wat ek as ‘n hulpelose huisvrou gehad het,” het sy gesê.

Senior staatsaanklaer Mickey Teshner het aan die hof gesê dat haar bevindings herhaaldelik bewys dat Elize allermins die hulpelose vrou is wat sy sou voorgee en dat haar poging om haar man te laat vermoor ‘n bewys daarvan is.

Die aansoek om versagting van al drie beskuldiges se vonnisse is uitgestel en hulle sal weer op 22 Januarie 2014 in die hof verskyn.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button