MunicipalNews

Koeler somer wink toe nie

Die openbare swembad in Krugersdorp-Wes sal dié somer nog ver van klaar wees.

Dit lyk of inwoners van Krugersdorp-Wes en omgewing nog lank gaan wag om selfs net hulle tone in die openbare swembad in Gouldstraat nat te maak.

Intussen bly Mogale City Plaaslike Munisipaliteit se werkers en hulle hoenders op dié perseel wat volledig voorsien word van elektrisiteit en lopende water, wat in ‘n geiser vir stortdoeleindes warm gemaak kan word.

Die NUUS het dié perseel ook in Julie besoek en behalwe vir die klere wat aan ‘n draad gehang word, het niks anders werklik verander nie ten spyte daarvan dat die munisipale woordvoerder Nkosana Zali vroeër gesê het dat sowat R4,5 miljoen vir opknapping aan dié swembad en die geriewe daar rondom toegewys is.

‘n Werker wat op die perseel woon, sê dat opknapping nou glo in Januarie sal begin.

Die strukture soos die aantrekgeriewe waarvan sekere hokkies nie deure het nie, die badkamers sonder die rommel en die storte waaruit daar tans warm water lek omdat die krane stukkend is, is nog in so ‘n toestand dat dit herstel kan word.

By die hoofingang na die openbare swembad wat sowat 10 jaar lank reeds vir die publiek gesluit is, is daar nog kennisgewings wat in gebroke Engels aandui dat dit R1 en R2 onderskeidellik vir kinders en volwassenes kos om die swembadgeriewe te gebruik.

‘n Nota langs dié kennisgewing dui ook aan dat die toesighouer wat die geld invorder oor ‘n minuut terug sal wees.

In hierdie klein kamertjie is daar selfs ‘n televisiestel wat mens laat wonder of die eienaar ‘n geldige lisensie daarvoor het.

Ons sal natuurlik vir eers moet wag en sien of die swembadgeriewe wel volgende jaar opgeknap gaan word, maar intussen sal inwoners nog ‘n somer by waaiers moet sit om die hitte te demp wanneer die kwik styg.

Wat is jou mening oor die stand van sake by dié swembad, en sal jy dit gebruik as dit weer oopmaak? Is daar enige herinneringe oor die swembad wat jy dalk nog koester?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button