CrimeEditor's choiceNews

Verkragtingsaak binne 21 dae afgehandel

Die man het 'n sesjarige meisie ontvoer en in 'n nabye veld verkrag en gelos vir die dood.

Die SAPD se 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders het vir adjudant-offisier Maurnie Bekker op ‘n positiewe noot afgeskop.

Kgomotso Moiloa (22), ‘n verdagte in ‘n saak wat Bekker ondersoek, is gister 26 November tot 40 jaar effektiewe gevangenisstraf gevonnis nadat hy op 8 November ‘n sesjarige Mohlakeng-meisie ontvoer, verkrag en vir dood agtergelaat het.

Bekker, wat aan die Krugersdorpse SAPD se Kindersbeskermingseenheid verbonde is, was die ondersoekbeampte in die saak en sê dat hierdie meisie seker die ergste getraumatiseerde kind is waarmee sy nog te doen gehad het.

Bekker noem dat Moiloa die aand van 8 November by die meisie en haar familie se plakkershut ingebreek het, haar ontvoer het en in ‘n nabye veld verkrag het. Moiloa het haar glo so erg aangerand en met sy voet probeer verwurg dat hy aangeneem het dat sy nie sal oorleef nie. Die meisie se ma was ten tye van die ontvoering nie tuis nie.

Haar ouma en gemeenskapslede het haar die volgende oggend lewend in die veld gekry. Die meisie kon die naam van haar ontvoerder en verkragter vir haar ouma gee omdat Moiloa glo ‘n vriend van haar pa is.

Moiloa is kort daarna gearresteer.

“Sy moes dadelik rekonstruktiewe chirurgie ondergaan en het eers na ongeveer twee dae weer begin kommunikeer,” sê Bekker.

Moiloa het kort daarna in die Randfonteinse Landdroshof verskyn. Hy het glo borgtog geweier. Hy het daarna ‘n bekentenis gemaak en die saak is tot 26 November uitgestel waartydens hy aangekla en gevonnis is vir ontvoering, verkragting en poging to moord.

Landdros Ettiene van Niekerk het erkenning aan Moiloa gegee omdat hy nie die hof se tyd gemors het nie aangesien hy geweet het die meisie sou hom op ‘n latere stadium uitken.

Bekker is geweldig verlig dat die saak so vinnig afgehandel kon word. Dit gee haar moed om weer met haar werk voort te gaan.

“Maar ongelukkig sal die meisie nooit weer dieselfde wees nie. Sy is ‘n gebroke kind,” eindig Bekker.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button