Mogale skrik wakker na ‘n tikkie aansporing
Laerskool Ebenhaser-leerlinge kan na 'n veiliger pad voor hul skool uitsien.
Na ‘n amper drie jaar lange stryd om Mogale City se Departement van Openbare Veiligheid sover te kry om padtekens voor Laerskool Ebenhaeser op te rig, het daar uiteindelik ‘n deurbraak gekom.
Of dit ouers se knaende pleidooie, briewe van die hoof of die navraag van die NUUS was is ‘n raaisel, maar op 25 November het Openbare Veiligheid uiteindelik planne aan die hoof voorgelê wat stipuleer hoe skooliere wat van Delportlaan en Rustenburgweg gebruik maak, beveilig sal word.
Etlike dae voor amptenare se besoek aan die skool het skoolhoof Koos Lamprecht vir die NUUS van sy stryd vertel om padtekens opgerig te kry wat motoriste waarsku dat skoliere die paaie gebruik.
Hy het genoem dat spoedvrate elke dag voor sy skool verby jaag.
Die NUUS het self tydens ‘n besoek aan die skool gesien hoe die amper 319 leerlinge wat Delportlaan en die 80 wat Rustenburweg daagliks oorsteek, motors moes ontduik.
“Ek het in ‘n skrywe aan die Departement verduidelik dat ek kinders se lewens op die spel plaas om hul tot die skolierpatrollie te verkies,” het hy gesê.
Dit blyk dat die Departement verlede jaar uiteindelik aan pleidooie gehoor gegee het toe twee verkeersbeamptes ontplooi is om kaartjies vir wetsoortreders voor die skool uit te skryf.
Twee verkeersbeamptes vir twee dae was die enigste reaksie wat twee petisies met meer as ‘n honderd handtekeninge gekry het.
Daarna was dit ‘n konstante stryd – voorstelle van spoedhobbels is afgekeur en ten spyte van die argument dat elke ander skool in die dorp waarskuwingstekens het, is daar niks aan die probleem gedoen nie.
Slegs 24 uur nadat die NUUS oor die kwessie by die Mogale City Departement van Openbare Veiligheid navraag gedoen het, het amptenare die skool besoek en slegs twee dae later het die hoof ‘n lang verwagte brief ontvang.
“Teen einde Desember sal die volgende geimplementeer word,” lui die inleiding.
Delportlaan sal in ‘n eenrigtingstraat omskep word, hoek- of visgraatparkeerslyne sal geverf word en bordjies wat motoriste waarsku dat skooliere die pad oorsteek, sal opgerig word.
Die NUUS sal verdere verwikkelinge dophou.
