
Oomblikke nadat ‘n bekommerde meisie haar sussie by die Kagiso Polisiestasie as vermis aangemeld het, het sy die oproep gekry dat iemand weet waar sy haar bevind.
Só sê adjudant-offisier Solomon Sibiya, ‘n polisiewoordvoerder nadat ‘n 13-jarige meisie opgespoor is waar sy saam met ‘n man (24) geslaap het.
“Die polisie het die man omstreeks 1.10vm op 27 November op aanklag van statutêre verkragting in hegtenis geneem nadat die ma ‘n klag by die polisiestasie gaan lê het.”
Volgens Sibiya is die ouer sussie op 23 November omstreeks 10nm na haar ma se huis om haar jonger sussie te gaan haal.
“Sy moes by haar ma hoor dat sy nie tuis is nie en dat sy al ‘n hele ruk lank weg was. Die volgende dag is sy terug, maar haar sussie was steeds nie tuis nie.”
Dit is toe dat sy op 26 November in die vroeë oggendure besluit het om haar as vermis aan te meld.
“Nadat sy ‘n saak van ‘n vermiste persoon aanhangig gemaak het, het sy ‘n oproep ontvang dat iemand weet waar die sussie is,” sê Sibiya.
Hy sê die persoon het haar toe na ‘n huis in Riverside in Kagiso geneem waar hulle die 24-jarige verdagte saam met haar sussie gekry het.
“Die tiener het vir die polisie gesê dat sy saam met die verdagte geslaap het.”
Hy is onmiddellik in hegtenis geneem en het in die Krugersdorp Landdroshof op ‘n aanklag vir statutêre verkragting verskyn.
