Dwelmarrestasies is in dié polisieman se bloed
'n Adjudant-offisier van die Gautengse Blitspatrollie-eenheid is vir sy bydrae tot dwelmarrestasies vereer.
‘n Polisieman wat daaraan verslaaf is om dwelmhandelaars en -kopers van die strate af te hou, is onlangs onder andere daarvoor vereer tydens ‘n spesiale toekenningsgeleentheid wat by die Krugersdorp Wildtuin gehou is.
Adjudant-offisier Johan Baksteen de Klerk van die Gautengse Blitspatrollie-eenheid sê vandat hy kan onthou het hy nie ander belangstellings gehad nie en het daarom besluit om sy tyd te gebruik om onwettighede uit te snuffel.
Hy het toekennings ontvang vir die meeste arrestasies in die kategorie dwelms en vir die meeste arrestasies in die kategorie algehele arrestasies wat enige arrestasie insluitend vir huisinbrake, diefstalle en dies meer insluit.
In die laasgenoemde kategorie het hy altesaam 114 arrestasies van Oktober verlede jaar tot Oktober vanjaar gedoen.
Hy is baie beskeie wanneer hy oor sy toekennings gesels en sê dat hy al die arrestasies nie alleen sou kon doen nie.
“Ek werk nie alleen nie, daar is baie ander lede wat my gehelp het om die hoeveelheid arrestasies te kon doen.”
Dié lede is adjudant-offisier Riaan Pretorius en Johan van der Sand.
“In dié werk kan ‘n mens nie sê jy het die toekennings alleen gewen nie.”
Johan beskryf sy werk as uitdagend, maar ook dat dit die adrenalien deur sy are laat vloei.
“Terwyl ‘n polisieman iemand in hegtenis neem, moet jy op daardie tydstip verskeie faktore in ag neem.”
Hy noem as voorbeeld wanneer ‘n vrou die polisie bel en ‘n saak teen haar man wil open.
“Dan moet jy aan die gesin dink. Arresteer jy haar man en hy beland in ‘n sel, dan kan hy sy werk kwyt wees en wie gaan dan die familie onderhou, want in baie gevalle sê die vrou dat sy nie ‘n inkomste het nie.”
Maar wat dinge egter vir hom interessant maak is wanneer hy op dwelmhandelaars en -kopers afkom.
“Om dwelmarrestasies te doen is vir my soos om ‘n siekte te bekamp – iets wat ek baie geniet.”
Al wat hy nie van sy werk hou nie, is die tyd wat dit hom van sy gesin af wegneem.
“My vrou moet seker gereeld baie bekommerd wees, want aangesien ek regoor die Gauteng provinsie werk, is ek nie altyd in dieselfde omgewing nie en enigiets kan op enige tydstip gebeur waarvoor ek selfs snags uitgeroep kan word.”
Hy sê sy werk is beslis nie ‘n gewildheidskompetisie nie.
“Jy maak vyande en vriende, en ‘n goeie polisiebeampte kan net goeie werk doen as hy goeie bevelvoerders het en daarom bedank ek graag myne: luitenant-kolonel Sebatanee en kaptein Marenza.”
Oor sy toekennings sê hy dat hy dit nie regtig verwag het nie, maar dat dit beslis vir hom ‘n aansporing is om beter te presteer.
Wanneer Johan nie besig is om misdadigers vas te trek nie, gaan rits hy graag op sy motorfiets rond of gebruik sy tyd om sy motor en motorfiets blink te vryf.
