Editor's choiceLocal newsNews

Rotte veroorsaak groot konsternasie

'n Rotplaag in die Krugersdorpse sakekern veroorsaak groot ontevredenheid onder besigheidseienaars.

‘n Rotplaag wat sy kop in die Krugersdorpse sakekern uitgesteek het, laat ‘n mens terugdink aan die storie van die Fluitspeler van Hamelin.

“Só ‘n tipe besigheid is ‘n probleem en ek kan nie verstaan dat dit toegelaat word nie. Dit is ‘n resep vir rotte.” — Thinus van den Berg

Thinus van den Berg, eienaar van Connoisseur Auto Electrical & Airconditioning in Ockersestraat sê in die 28 jaar van sy besigheid se bestaan was daar nog nooit so ‘n erge rotplaag nie.

“Daar was so nou en dan ‘n rot, maar dit is nou erger as tevore,” sê Van den Berg.

Hy en nog ‘n besigheid, Dental Connection Laboratorium, sê hulle vermoed dat die probleem by ‘n herwinningsfabriek in die straat lê.

“Só ‘n tipe besigheid is ‘n probleem en ek kan nie verstaan dat dit toegelaat word nie. Dit is ‘n resep vir rotte.”

Van den Berg is van mening dat dit nadelig en ‘n gesondheidsrisiko vir veral restaurante in die omgewing inhou.

“Ek het ‘n 3kg-houer vol gif aangekoop en binne ‘n paar dae was daardie blik leeg. Hulle is soos honger honde om die gifbak en op ‘n keer het ons tot tien aan die gif sien vreet.

“Die gif jaag my nou heelwat geld uit die sak.”

Hy noem dat sy alarm al verskeie kere afgegaan het omdat die oog van die alarmstelsel die rotte se beweging waarneem.

Hannetjie Fourie, kantoorbestuurder van Dental Connection, sê dat hulle alarm ook al afgegaan het.

“Ons sit met ‘n erge rot- en kokkerotplaag. Die rotte wat hier rondhardloop is so groot soos katte.”

Sy sê die eienaar, Willie Fourie het al met die eienaar van die herwinningsfabriek daaroor gepraat, maar dit lyk nie of daar iets van gekom het nie.

“Sedert 2012 ondervind ons probleme en ons spandeer ook baie geld om die plaag te beheer.”

Fourie sê dat hulle die probleem ook al met die stadsraad bespreek het.

Die NUUS sal probeer om met die eienaar van die herwinningsfabriek in aanraking te kom vir kommentaar.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button