2013 se matrieks vaar goed
Die Krugersdorpse skole was 'n miernes van bedrywigheid toe opgewonde matrieks hulle uitslae gaan haal het.

Verskeie matrikulante kon die nag voor die bekendmaking van hulle matriekuitslae van pure opgewondenheid (of senuweeagtigheid) nie slaap nie.
Duisende matrikulante van Krugersdorp is reeds van vroeg af na hulle alma mater toe om te sien hoe hulle in verlede jaar se matriekeindeksamen gevaar het.
Hoërskool Noordheuwel se 290 matrikulante spog vanjaar met ‘n slaagsyfer van 100 persent, 433 onderskeidings en universiteitsvrystelling van 80 persent.
Karlien Steyn, Noordheuwel se bemarker sê dat hulle baie trots is op hulle matrikulante.
“Dit was vir ons ‘n baie geseënde jaar en hierdie uitslae is die kersie op die koek!”
Jeanetta Lubbe, adjunkhoof van Hoërskool Bastion sê dat hulle geweldig trots is op hulle matrikulante en wat sy as ‘n groot prestasie beskryf.
Bastion se 146 matrikulante kon daarin slaag om 431 onderskeidings in te palm.
“Wat vir ons ook baie opvallend is, is die aantal leerlinge wat bo 70 persent behaal het, wat natuurlik tot A’s geslyp moes wees,” sê Jeanetta.
Sy sê dat hulle elke matrikulant vir oulaas laat spesiaal voel het toe ‘n spesiale lêer met hulle matriekuitslae, getuigskrif en persoonlike briefies van onderwysers aan hulle oorhandig is.
Bernadene Roos, Bastion se kunsonderwyseres is in die wolke nadat ses van haar agt visuele kuns-leerlinge A-simbole verwerf het.
Twee van haar sewe ontwerpkunsleerlinge het ook A-simbole behaal.
“Ek is baie opgewonde! Vanaand gaan die druiwesap vloei, want ek drink nie alkohol nie,” skerts Bernadene.
Sy sê sy is trots op haar leerlinge, omdat dit die eerste keer is dat hulle sulke goeie uitslae behaal.
“Ek het reeds groot planne vir vanjaar. Daar is ‘n groter groep en ek is van mening dat ons net so goed kan vaar.”
