Ken Gaarkeuken (67), ‘n inwoner van Eldorado in Tarlton sê hy is al keelvol daarvoor om dae lank sonder water te wees.
“Dit gaan al vir meer as ‘n jaar so aan en ek weet nie meer watter kant toe nie. Dit gaan so sleg dat daar dae is wanneer ek by my skoonseun water moet kry sodat my hond water het om te drink.”
Hy sê dit is vir hom ook ‘n nagmerrie omdat hy nie normale huishoudelike take kan afhandel nie.
“Ek kan nie wasgoed of skottelgoed was, die vloere skoonhou en basiese noodsaaklikhede soos die toilet spoel is nie. Dit raak nou regtig ‘n probleem.”
Die rede hiervoor, sê Gaarkeuken, is dat daar nie genoeg water is vir die woongebiede en staatsorganisasies soos die polisiestasie, skole en die kliniek nie omdat watertenkwaens die water uit die pype tap.
“Daar is vier watertenkwaens in die omgewing wat water vir onder andere die plakkerskampe tap en dit veroorsaak dat ons tot agt ure sonder water is. Dit gebeur soms op kritieke tye soos Saterdae en Sondae en dan kan ons niks tuis doen nie.”
Gaarkeuken sê raadslede het die probleem reeds by die munisipaliteit en die Uitvoerende Burgemeester Koketso Calvin Seerane aangemeld, maar dat dit nog nie reggestel is nie.
“Wanneer ‘n mens die vragmotorbestuurders nader om te hoor of daar nie ‘n oplossing gevind kan word nie, dan raak hulle baie gewelddadig en sê dat die mense by die munisipaliteit moet kla.”
