Editor's choiceMunicipalNews

Water vloei in straat af

'n Inwoner van Monument se hart breek elke keer as sy die water in die straat sien afvloei.

Die antwoord op die vraag of Mogale City Plaaslike Munisipaliteit regtig omgee oor watervermorsings is nog vaag.

Ten spyte daarvan dat daar al voorheen oor verskeie waterlekkasies in die dorp berig is, wil dit voorkom of die munisipaliteit nie iets omtrent die duisende liters water wat op hierdie manier gemors word, wil doen nie.

Anetta Norval (65) wat al vir sowat ‘n jaar lank in die Ekron-woonkompleks in Paul Krugerlaan, Monument woon sê vandat sy daar ingetrek het, was daar ‘n waterlek.

“Ek het besluit om nou self iets te begin doen, want elke keer as ek by die kompleks uitry en sien hoe die water by die straat afloop, breek dit my hart.”

Norval sê sy is daarvan bewus dat die voorsitter sowel as die bestuursliggaam van die kompleks die munisipaliteit van die probleem verwittig het, maar daar het nog niks van gekom nie.

Wat vir haar nie pluis is nie, is dat munisipale werkers die grasperk voor die kompleks sny, maar nie die waterlek rapporteer nie.

“Ek het hulle al gevra of hulle dit nie kan rapporteer nie, maar moes net hoor dat ons die munisipaliteit self moet kontak.”

Sy sê hulle betaal glo baie aan belasting en tariewe op hulle wooneenhede en wonder hoekom dit meer is as in Roodepoort waar sy voorheen in ‘n huis gewoon het.

“Miskien is dit so baie omdat ons so baie betaal vir die water wat gemors word. Ons is baie trots op ons kompleks en wens net hulle wil dit kom regstel – ons het al selfs gekyk of die water nie uit ons pypinfrastruktuur loop nie, maar dit is nie die geval nie.”

Die NUUS het opgemerk dat ‘n waterpoel al gevorm het van waar die water uitvloei en daar kan met die blote oog gesien word hoe liters water by die straat afvloei.

Die NUUS het Nkosana Zali, die munisipale woordvoerder van die probleem verwittig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button