Wie betaal vir watervermorsing?
'n Inwoner van Noordheuwel is al moeg gesukkel om Mogale City Plaaslike Munisipaliteit so ver te kry om 'n lekkende watermeter te herstel.
“Die munisipaliteit maak ‘n mens moedeloos met ‘n gesukkel.”
Met hierdie woorde beskryf Madelein Diedericks van Noordheuwel haar ervaring met Mogale City Plaaslike Munisipaliteit se diens om ‘n watermeter wat voor haar erf lek, te herstel.
“Ek sukkel reeds van einde Oktober verlede jaar af met dié watermeter en soos ek kan agterkom is die probleem aan die munisipaliteit se kant.”

Sy verduidelik dat sy die lek al sowat agt keer by die munisipaliteit gerapporteer het, maar tot dusver val haar pleidooie op dowe ore.
“Ek het self twee keer al vir Org Viljoen, ingenieurstegnikus vir water en sanitasie by die munisipaliteit gekontak, wat my verseker het dat daar na die probleem gekyk sal word, maar tot dusver was dit sonder sukses.”
Diedericks sê sy dink die munisipaliteit het ‘n ons-gee-nie-om-nie houding teenoor die vermorsing van water, want dit lyk nie of hulle daarin belang stel om dit reg te maak wanneer dit gerapporteer word nie.
“Daar word gereeld vir ons gesê ons moet water bespaar, maar noudat ons dit wil doen, ignoreer hulle ons.”
Wat haar bekommer is wie vir hierdie watervermorsing gaan betaal.
“Die munisipaliteit moet die geld iewers van iemand verhaal, so ek glo sonder dat ons as inwoners dit weet word die uitstaande bedrae wat hulle vir water skuld maar net iewers by ons rekeninge gevoeg.”
Diedericks sê sy kan nie verstaan dat die meterlesers nie ook die probleem by hulle departement rapporteer nie.
“Ek laat my nie vertel dat hulle nie kan agterkom dat die meter lek nie. Jy sien en hoor duidelik die water wat daaruit lek.”
Die NUUS het Nkosana Zali, munisipale woordvoerder oor die waterlek ingelig en vir kommentaar genader, maar geen terugvoering is teen druktyd ontvang nie.
In hierdie eposboodskap aan Zali is daar gevra of die munisipaliteit nie omgee of die water vermors word nie en wie vir die watervermorsing verantwoordelik is.
Verwante stories:
• Die harnas in oor watertekorte
