MunicipalNews

Parkeerfasiliteit net nog een van Mogale City se vervalle bates

Dié parkeerfasiliteit het intussen 'n plek geword waar peste floreer en besighede en die publiek hulle rommel strooi.

Wat voorheen die plek was waar die gemeenskap hulle motors kon parkeer wanneer hulle vir die res van die dag tot Krugersdorp se ekonomie bygedra het, het nou letterlik ‘n asgat geword.

‘n Bord op die sypaadjie in Von Brandisstraat in die Krugersdorp Sakekern dui nog aan dat ‘n mens ‘n onderdakparkering – met ‘n wag nogal – daar sal aantref.

Intussen is die ingangshek, die onderdakparkering, lemmetjiesdraad en die wag wat voorheen daar was, net nog ‘n herinnering uit die verlede.

Met ‘n besoek aan die perseel saam met Demokratiese Alliansie Raadslid Jakkie Naudé in wie se wyk dit is, is daar opgemerk dat die perseel van vlieë, brommers en maaiers wemel.

“Dit is totaal ongesond!” merk Naudé op.

‘n Rommelinsamelaar word duidelik nie deur die stank ontmoedig wat iemand wat nie daaraan gewoond is nie, groen in die gesig laat voel.

Ontbinde gaargemaakte vleis nog in die verpakking, skyfies en ander bederfde voedselprodukte wat lyk of dit dalk van ‘n bekende kettingwinkel in die straat af kom, lê duidelik sigbaar op die grond gestrooi.

Huishoudelike en bourommel, asook rommel wat sonder twyfel van drankwinkels af kom, is ook te sien.

Naudé sê dit is ‘n broeiplek vir peste soos rotte, wat reeds ‘n probleem in die gebied is.

“Ek het al persoonlik na die Parkedepartement toe gegaan, foto’s aan hulle verskaf en ‘n verklaring ingedien oor die vervalle toestand van die parkeerterrein.”

In die NUUS se teenwoordigheid het Naudé die Parke-afdeling om 3.40nm gekontak, maar na twee probeerslae na twee verskillende nommers kon niemand bereik word nie.

Naudé sê die rommelstrooiing kan beperk word as die Parke-afdeling behoorlik beheer uitgeoefen het.

“Is hulle dan nie veronderstel om dit te rapporteer en skoon te maak nie?”

Hy sê die rommelinsamelaars lewer darem ‘n positiewe bydrae deur die bottels en dies meer te verwyder.

“Dink net hoeveel erger die plek sou gelyk het as daardie items ook nog daar was. Wanneer dit reën, stoot die reënwater al hierdie rommel die straat af en dit laat die straat verskriklik lyk.”

Naudé het die parkeerfasiliteit ook in 2009 onder die NUUS se aandag gebring toe dit reeds besig was om te verval.

Van wat die NUUS verstaan is hierdie parkeerfasiliteit deur die munisipaliteit verkoop, maar dit kon nie bevestig word nie.

Nkosana Zali, die munisipale woordvoerder het nie gereageer op navrae oor wat die toekoms vir dié fasiliteit inhou nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button