VIDEO: Opgehelderde gesigte dankbaar vir die verskil
Met R1 444 kon vier barmhartige gemeenskapswerkers 'n maaltyd vir meer as 200 mense voortsit.
Die opgehelderde gesigte van die Villa Gloria inwoners in Oatlands is oorgenoeg aansporing vir ‘n groepie barmhartige gemeenskapsvrywilligers om dié mense se nood te help verlig.
Leon Ehrke en nog drie vrywilligers Phillip Ehrke, Rassie Erasmus en Fanie Diedericks het Saterdag 25 Januarie afgestaan om met R1 444 ‘n maaltyd aan sowat 200 mense voor te sit.

Met die geur van braaivleis in die lug het inwoners die geleentheid gekry om nie net aan ‘n lekker vleisie te smul nie, maar ook om na die pap-en-sous uit te sien.
Die kinders is boonop elkeen met ‘n pakkie lekkers bederf.

Leon, een van die organiseerders, sê hy het van die mense se lief en leed gehoor toe hy eendag ‘n ouerpaar by ‘n laerskool in die nabye omgewing gewaar het wat hulle tweeling babas in ‘n stukkende stootwaentjie gestoot het.
“Dié mense was so dankbaar toe ek vir hulle sê dat ons vir hulle ‘n ander stootwaentjie gaan kry dat hulle sommer van opgewondenheid in die straat gestaan en wag het toe ek dit gaan aflewer het.”
Hy sê hy het al voorheen in Engelbrechtstraat gery waar die betrokke mense woon, maar nooit opgelet dat mense wat daar bly in nood verkeer nie.
“Al hierdie mense probeer iets van hulle lewens maak. Hulle bly hier omdat hulle salarisse of lone nie genoeg is om vir ‘n ander plek te kan betaal nie.”
Leon sê hulle het dit toe goed gedink om die mense se nood te help verlig, al is dit net met ‘n bord kos.

“Dit is nou die derde keer dat ons hierdie mense bystaan en ons hoop om dit nog baie kere te kan doen.”
Hy noem dat die enigste struikelblok fondse is.
“Ons bedank graag almal wat reeds bydraes gelewer het, want hulle bring ‘n verandering in ander mense se lewens en dra by dat hulle van ‘n goeie maaltyd voorsien kan word.”
Indien enigiemand met ‘n donasie wil help, kan hulle vir Leon by 082 785 6816 of vir Fanie by 083 284 4510 kontak.
Gesigte wys dankbaarheid
https://www.youtube.com/watch?v=BC3RcKfN9Yk&feature=youtu.be
