Local newsNews

Gesin voel soos gevangenes in eie huis

Dit volg ná 'n vermeende inbreker oor hulle huis se muur gespring het.

‘n Gesin van Krugersdorp-Noord is deesdae te bang om hulle huis te verlaat ná ‘n vermeende inbreker op Donderdag 30 Januarie oor hulle erf se muur gespring het.

“Jy voel soos ‘n gevangene in jou eie huis. Die eerlike mense moet soos gevangenes binne bly terwyl die skelms vrylik buite kan beweeg” — Lourens Hattingh, inwoner van Krugersdorp-Noord.

Lourens Hattingh, pa van twee kinders, het die NUUS gekontak om die gemeenskap in te lig dat misdadigers moontlik besig is om huise in dié area te teiken.

Sy vrou Bernadette is met kraamverlof en bly tuis om na hulle drie-maande-oue dogter René om te sien. Sy het op die betrokke dag net na 10vm ‘n man oor hulle muur tot binne hulle erf sien spring toe hul Jack Russels histeries begin blaf het.

“Ek het geskrik toe ek dit hoor en het nie geweet wat om te doen nie, omdat ek in Brakpan was,” sê Lourens.

Dit blyk dat die betreder sy vrou gewaar het en gevlug het.

“‘n Mens weet nie of dit net daardie een man is wat oor die muur is nie en natuurlik is jou eerste instink om die polisie te kontak.”

Hy sê die sektorpolisie wat twee keer gekontak is, het die situasie baie swak hanteer.

“‘n Vrou het die foon vinnig geantwoord en gesê dat hulle die straat sal patrolleer, maar hulle het nie daarin belang gestel om ‘n verklaring te neem nie.” Daarvoor moes hulle na die Krugersdorpse Polisiestasie gaan.

“Na hierdie insident het ek slapelose nagte. Elke keer as die honde blaf, kyk ek deur die venster of iemand nie dalk in die erf is nie.”

Lourens sê hy moes ook sy ouma se 77ste verjaardagpartytjie, wat oor die naweek gehou is, opsy skuif omdat hy te bang is om die huis te verlaat en so ‘n geleentheid skep vir misdadigers om die huis te beroof.

“Jy voel soos ‘n gevangene in jou eie huis. Die eerlike mense moet soos gevangenes binne bly terwyl die skelms vrylik buite kan beweeg.”

Hy sê hy glo heelwat inbrake vind op ‘n Donderdag plaas omdat dit die dag is waarop die buurt se vullis verwyder word.

“Dit skep ‘n gulde geleentheid vir misdadigers. ‘n Mens is effens op jou gemak omdat jy dink dit is mense wat in jou asblikke grou vir items om te herwin, maar hulle kan net so wel voorgee om in die asblik te kyk terwyl hulle erwe en wonings teiken.”

Konstabel Thsepiso Mashale, ‘n polisiewoordvoerder sê dat die sektorpolisie ‘n verklaring moes neem as die Hattingh’s dit só verkies het.

“Dit gebeur soms dat die klaer net wil hê die polisie moet die area patrolleer op grond van die inligting, soos die verdagte se voorkoms en kleredrag.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button