Local newsMunicipalNews

Mogale City se leë beloftes stel skoolkinders in gevaar

Nie een padteken of stippellyn is intussen geverf nie.

Amper vier maande nadat die NUUS by Laerskool Ebenhaser besoek afgelê het en oor die kommerwekkende gebrek aan padveiligheid buite die skool verslag gedoen het, het Mogale City se Departement van Openbare Veiligheid nog nie ‘n vinger verroer nie.

Tydens die NUUS se besoek was dit duidelik dat leerlinge hul lewens in gevaar stel as hulle van Delportlaan en Rustenburgweg voor die skool gebruik maak.

Dit het die hare laat rys om te sien hoe die amper 319 leerlinge wat Delportlaan en die 80 wat Rustenburgweg daagliks oorsteek, motors moes ontduik.

Nadat die NUUS die Departement herinner het aan hul verantwoordelikheid om die paaie voor die skool te beveilig, is die volgende skriftelik beloof:

• Delportlaan sou in ‘n eenrigtingstraat omskep word.

• Hoek- of visgraatparkeerstrepe sou geverf word.

• Bordjies wat motoriste waarsku dat skooliere die pad oorsteek, sou opgerig word.

Die Departement sou in Desember 2013 of op die laatste aan die begin van die nuwe skooljaar aan die werk spring om dié beloftes na te kom.

Na amper ‘n maand sedert die skool heropen het en talle nuwe Graad 1’tjies die pad moet gebruik, skitter die Departement steeds in hul afwesigheid.

Skoolhoof Koos Lamprecht het intussen slapelose nagte oor die veiligheid van sy leerlinge.

Die NUUS het ‘n epos aan die Departement gerig nadat hulle geweier het om joernaliste telefonies te woord te staan.

Die NUUS sal verdere verwikkelinge dophou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button